In moeilike tye het Krzysztof Penderecki deurgaans bly soek na die krag van wat hy meen waarheid is
Deur JOHAN MYBURG
Krzysztof Penderecki, die Poolse komponis wat in November 85 jaar oud word, se musiek is nie maklik nie, veral nie dié van die 1960’s nie. Dit erken hy self. Maar, voeg hy by, dít was nie maklike tye nie. Hy was 25 toe hy in 1958 aan die musiekakademie in Kraków afgestudeer het. In die nadraai van die Tweede Wêreldoorlog was die 1950’s die tyd van die avantgarde en van rebellie – iets waarmee die jong Penderecki hom vereenselwig het. Pole was onder Russiese besetting en niemand kon byvoordeel ’n paspoort kry om die land te verlaat nie. En reis was iets wat hy bitter graag wou doen. Toe ’n kompetisie uitgeskryf word met ’n reis na die Weste as prys, het Penderecki onmiddellik drie komposisies ingeskryf (in drie style en drie handskrifte).
Hy het die eerste prys gewen, asook die tweede én die derde prys. Só kon hy sy eerste besoek aan Italië bring. Die 1960’s was ook die tyd toe elektroniese musiek en veral die klanke wat elektronika kon voortbring, komposisie in ’n nuwe rigting gestuur het. Veral as jy ’n rebel was. Die eerste werk waarmee hy egter die aandag op hom gevestig het, was sy Klaaglied vir die slagoffers van Hirosjima van 1960. Dié stuk vir 52 strykers met sy gillende toontrosse en glissando’s soos sirenes is ’n goeie aanduiding van “sonorisme”, waarin nietradisionele klank met tradisionele instrumente voortgebring word.
LEES OOK: Klassieke klanke: Leonard Bernstein
In ’n raps minder as nege minute het Penderecki met dié stuk “beheerde anargie” ’n klankwêreld ontsluit wat ook wyer aanklank gevind en invloed gehad het. Dele uit dié musiek is al in verskeie rolprente gebruik om die sielkundig versmorende effek van spanning te beklemtoon. Dink maar aan Wes Craven se The People under the Stairs (1991). As musikale manifestasie van die onderbewuste was Penderecki se angswekkende musiek nommerpas vir Stanley Kubrick se The Shining (1980), David Lynch se Inland Empire (2006) en Martin Scorsese se Shutter Island (2010). Penderecki het ook verskeie werke met ’n direkte religieuse strekking geskryf soos die Lukas-passie (1966), Dies irae (1967), wat aan die Joodse slagoffers van Auschwitz opgedra is, en Utrenja (1970– ‘71) wat oor die begrafnis en opstanding van Christus gaan.
Weer kom Penderecki die rebel na vore. In ’n onderhoud het hy by geleentheid erken dat dié religieuse musiek ook ’n vorm van rebellie was. In Kommunistiese Pole was die owerhede fel teen enige vorm van musiek met ’n godsdienstige strekking gekant – wat water op Penderecki se meul was. Hy het in ’n land grootgeword waar 90% van die bevolking streng Rooms-Katoliek is. Dit was egter sy navorsing vir sy opera The Devils of Loudun (1969 en verwerk in 1975) na aanleiding van Aldous Huxley se gelyknamige boek (1952), wat hom met ander oë na dié kerk laat kyk het.
Die opera het wyd kritiek van die kerk ontlok en toe dit in Rome aangebied is, het die Vatikaan die produksie sonder sukses probeer dwarsboom. Ter viering van Penderecki se verjaardag het Deutsche Grammophon ’n dubbelalbum, Hommage à Penderecki, uitgebring met werk vir viool en klavier, en viool en orkes. Die violis in dié opnames is Anne-Sophie Mutter, jare lange vriendin van Penderecki, vir wie hy ook sy Vioolkonsert no. 2 (Metamorphosen) geskryf het. In moeilike tye, soos hy daarna verwys, het Penderecki deurgaans bly soek na die krag van wat hy meen die waarheid is.