Ma, ek wil famous wees, is hierdie week die impuls vir my skrywe en ek gaan dalk ’n paar mense vies maak
Dis nou as jy byvoorbeeld een van daai ma’s is wat jou dogtertjie van vierjarige ouderdom af vir die een skoonheidskompetisie ná die ander inskryf of dink “reality TV” lewer “celebrities” op. Ek het onlangs eers gehoor van die Kardashians en ek kan jou verseker my geliefde het nog nooit van hulle gehoor nie. Tog is hulle sogenaamde “famous celebrities”. Wat beteken dit om ’n “famous celebrity” te wees? Dis veral die Engelse woord vir bekende of beroemde wat my op my seepkis laat spring. ’n Celebrity is iemand wat ’n mens veronderstel is om te “celebrate”.
Vir my is iemand wat ek “celebrate”, iemand vir wie ek respek het en wie se werke, dade, woorde en optrede bewonderenswaardig is en ek kan dit vier. Hulle kan briljante akteurs, kunstenaars, musici, wetenskaplikes, medici of ontdekkers wees wat mens werklik in verwondering en met agting laat, maar hulle kan ook mense wees van wie die wêreld nie weet nie en wie se foto’s nie in die media verskyn nie. Maar as ek kyk wat in die media aangaan, kan hulle die Kardashians wees, of hulle kan kinders met krone op hul koppe en vals glimlagte wees.
Met Mammas agter die skerms wat lyk soos iemand wat graag ’n “famous beauty queen” of model of aktrise wou word, maar nie kon nie. Siende dat ek in die media werksaam is, leer ’n mens mettertyd waaraan jy jou naam as die leier van ’n span wil koppel en waaraan nie. Ons het almal verskillende waardestelsels en myne verhoed (of behoede) my van celebrity-status gee aan mense wie se werke, dade, woorde en optrede ek nie kan vier nie. Ek dink akteurs is van die mense wat die maklikste aan beroemdheid verslaaf kan raak. Net omdat jy in ’n fliek speel, beteken nie jy is ’n gevierde akteur nie. Daniel Day-Lewis is ’n gevierde akteur en beroemd. Met rede. Hy en sy gesin woon nie in ’n glanspaleis in Hollywood nie. Wanneer hy nie as akteur werk nie, maak hy skoene op sy plasie op die Ierse platteland waar hy ’n gewone-mens-bestaan saam met sy geliefdes voer.
JK Rowling is ’n bekroonde skrywer en beroemd. Met rede. Maar oor dié status het sy die volgende te sê: “The fame thing is interesting, because I never wanted to be famous and I never dreamt I would be famous.” Terloops, mense wat weet wie die Kardashians is, maar nie weet wie Daniel Day- Lewis of JK Rowling is nie, maak my bang. Die Brits-Amerikaanse astronoom en astrofisikus, Cecilia Helena Payne- Gaposchkin (1900–1979), het oor haar beroep die volgende gesê: “Do not undertake a scientific career in quest of fame or money… Undertake it only if nothing else will satisfy you… Your reward will be the widening of your horizon as you climb. And if you achieve that reward, you will ask no other.” Ek wil uitbrei op haar siening en sê: Moenie enige beroep volg in die soeke na roem of geld nie, en ek beaam wat een van die karakters in een van JK Rowling se boeke sê: “Fame is a fickle friend, Harry. Celebrity is as celebrity does. Remember that.”
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.