Ek weet nie van julle nie, maar hierdie tyd van die jaar is my lont kort en ontplof ek baie maklik en vir die geringste klein irritasie.
Zerelda Esterhuizen
En dis asof die irritasies net ophoop en uitkring, en as ek weer sien is Ma van die Jaar aan ‘t skree.
En dis ook nie net ek nie. My oudste is ook maar geneig tot haar emosionele uitbarstings en deesdae kan sy nie juis haar klein boetie veel nie. Hy irriteer haar en die meeste goed wat hy doen, maak haar vies. Betree hy haar kamer, skree sy op hom, wil hy ‘n TV-program kies, skree sy op hom. Eet hy die lekkergoed wat sy so goed wegsteek, skree sy. Ja, ‘n besige vierjarige seuntjie wat dink hy’s iets tussen Superman en die Hulk, kan jou geduld beproef en sy is soms heeltemal reg as sy hom met haar sewejarige wysheid berispe.
Soms klink sy … wel, soos haar ma! Ek moes juis nou die dag vir haar sê toe sy weer op my arme jongste telg uitvaar: “As jy eendag jou eie kinders het, kan jy op hulle skree. Ek sal op myne skree, baie dankie.”
Ek weet ek gaan nie die regte Ma van die Jaar-toekenning wen nie …
So was sy nou die aand in trane omdat ons glo ‘n witbroodjie het en dié is volgens haar ons jongste. Natuurlik het ek dit hewig ontken, maar die feit van die saak is dat jou jongste kinders meer van jou aandag en tyd verg terwyl die oueres gewoonlik meer vir hulself kan doen. “Mamma, haal my uit by die bad uit.” “Nee, jete, jy kan mos self uitklim!”
Ek trek nog die jongste aan, want anders sal hy met sy gunsteling-karretjie-pajamas skool toe gaan of met sy Superman-manteltjie gaan slaap. Ek bad hom, want anders sal hy net so vuil uit die bad klim. Ek bestee dus meer tyd aan hom en hoe meet kinders liefde? Aan tyd.
Wonderlik! Nog iets om oor skuldig te voel. Benewens al die ander 100 dinge wat ek verkeerd doen en sê in ons huis, laat ek boonop ‘n kind ongeliefd voel.
Ek weet mos dis wanneer jy nie genoeg tyd aan al die kinders bestee nie dat hulle begin wonder of daar ‘n voortrekkery is … en of jy hulle dan nou regtig so liefhet soos wat jy ‘n ander kind het.
Ek weet ek het albei my kinders oorweldigend lief en dat hulle ewe kosbaar vir my is. Maar weet hulle dit?
Ek besef toenemend dat ek so besig met my pligte as ma is dat ek van die eintlike rede vir my “mawees” vergeet: Die kinders.
Werkende ma’s, julle ken mos die storie: Dis ‘n gejaag van die oomblik wat jy by die huis kom, maar iewers in daardie geharwar, moet ‘n mens tyd vir hulle maak. En boonop individuele tyd.
Tyd om te luister. Tyd om hulle iets te leer. Tyd om saam te lag en te droom sodat hulle weet hulle is geliefd … en só is daar dalk net tyd vir vrede in die huis en boonop minder skuldgevoelens.
<cred>In die volgende blog, praat Ma van die Jaar oor Kinders en Kersfees
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.