Het jou kind nog tyd om kind te wees of is sy dagboek voller as joune?
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Waar is die dae wat kinders in die middag ná skool by die huis gekom het, ‘n toebroodjie geëet het en dan met die bure se kinders gaan speel het?
Die lewe het verander en min kinders gaan deesdae direk ná skool huis toe en het genoeg tyd om te speel en kind te wees.
Vandag het kinders al hoe meer hooi op hul vurk en daar is nie sprake daarvan dat hulle vroeg by die huis kom nie.
LEES OOK: My kind het nie maats nie
Cindy Glass, direkteur en medestigter van die Step Up-opvoedingsentrums, verduidelik: “Kinders het gewoonlik baie energie en baie ouers dink nie eens daaraan dat hul kinders oorlaai word met aktiwiteite en te veel druk nie. As volwassenes ken ons die uitdagings van fisieke emosionele uitbranding, maar ons dink nie daaraan dat kinders ook kan uitbrand nie. En uitbranding by kinders kan tot depressie, apatie en verskeie gesondheidskwessies lei.”
Cindy gesels dat baie kinders op ‘n daaglikse basis aan kompeterende aktiwiteite deelneem.
“Akademiese verwagtinge, sport (skool en klubs), kulturele en godsdienstige studies, ekstra lesse, musiek, kuns, drama, dans … Die lysie word langer en langer en kinders se daaglikse skedule kan so oorvol raak dat hulle oormoeg raak en uiteindelik uitbrand.”
Wees op die uitkyk na die volgende simptome by jou kind:
- Jou kind het nie meer die motivering of lus om aan aktiwiteite deel te neem wat hy of sy eers geniet het nie.
- Angstigheid, paniekaanvalle of vrees.
- Moegheid, tranerigheid, die kind onttrek of gooi vloermoere.
- Kind maak verskonings om nie aan aktiwiteite deel te neem nie
- Verlies aan aptyt, byt naels, siektes.
- Sukkel akademies.
Cindy gee die volgende wenke:
- Wees bewus van wat in jou kind se lewe aangaan. Kyk, kommunikeer, luister met begrip. Erken as daar fout is en help en ondersteun jou kind.
- Wees eerlik oor wat stres in jou kind se lewe veroorsaak. Werk saam met jou kind om van die aktiwiteite uit te sny.
- Leer jou kind om na sy of haar lyf te luister en self gesonde keuses te maak.
- Gun jou kind genoeg tyd vir speletjies en pret. Jou kind moet ook net kind kan wees.
- Wees realisties oor dit wat jou kind kan doen. Wees op die uitkyk na tekens van moegheid en oorlading.
Vir meer oor die Step Up-sentrums, besoek www.stepuped.co.za