Ek is dol oor die beelde uit die antieke Griekeland. Hulle was nog altyd en is steeds my meesters’
Deur JOHAN MYBURG
Die feit dat die British Museum in Londen tans ’n uitstalling van beeldhouwerk deur die Franse meester Auguste Rodin aanbied, is geen toeval of ’n lukraak besluit van die museumowerheid nie. Dit was in die einste museum waar die 41-jarige Rodin (1840–1917) in 1881 op sy eerste besoek aan Londen die Parthenonbeelde gesien het en onmiddellik deur die skoonheid daarvan aangegryp is. En dit was ook dié Griekse beelde wat Rodin se loopbaan in ’n sekere rigting gestuur het.
Soos so baie antieke beelde toon die Parthenon-beelde ook tekens van verwering. Van talle daarvan is slegs fragmente oor – dikwels net die lyf sonder kop en ledemate. Dit het Rodin juis betower: Hoe die lyf alleen so ’n kragtige uitdrukking kan oordra. Na dié besoek het Rodin die koppe en arms van sy beelde verwyder om dit na fragmente uit die verlede te laat lyk. En in die proses het hy ’n nuwe genre tot die beeldhoukuns gevoeg: die koplose, ledemaatlose torso. Rodin het ’n private versameling van meer as 6 000 beelde uit die antieke tyd besit en het in 1900 ’n museum te Meudon, net buite Parys, gebou om dié groeiende versameling te huisves.
Oor dié beeldhouwerke het hy gesê: “Ek is dol oor die beelde uit antieke Griekeland. Hulle was nog altyd en is steeds my meesters.” Snags het hy besoekers by lamplig sy museum ingeneem en die modellering in gekerfde marmer uitgewys. En in die somer het hy die spulletjie laat uitdra en in die tuin uitgestal. Dié aanknopingspunt is wat die kurators Ian Jenkins, senior kurator, Griekeland en Rome, en Celeste Farge, projekkurator, Griekeland en Rome, geïnspireer het om dié uitstalling, Rodin and the Art of Ancient Greece, in samewerking met die Musée Rodin in Parys aan te pak.
LEES OOK: Kuns: Sol LeWitt
Beelde van Rodin in gips, brons en marmer – onder meer die beroemde Denker en Die soen – word vir die eerste keer uitgestal, tesame met die Parthenon-beelde wat hy so bewonder het, maar ook saam met werk van die Griekse beeldhouer Phidias (480–430 VHJ), die man wat Rodin as sy geestelike en artistieke mentor beskou het. Hoewel daar eeue tussen die twee kunstenaars gelê het, het Rodin gepraat en geskryf asof hy Phidias persoonlik geken het. “Niemand sal Phidias ooit kan oortref nie,” het Rodin by geleentheid gesê. “Die grootste van alle beeldhouers, wat op die toneel verskyn het toe die pediment van ’n tempel die droom van die ganse mensdom kon vergestalt.”
Die soen, daardie beeldhouwerk in wit marmer wat al soveel keer tot cliché verlaag is, kry nuwe betekenis as dit met die figure op die pediment van die Parthenon vergelyk word. In die vloeiende en sensueel gedrapeerde lap van die Parthenon-beelde en die warm lyf uit koue marmer kom die vaardigheid van albei kunstenaars wonderlik na vore. Terloops, Die soen word dikwels los gesien van die konteks waarin dit geskep is. In sy La commedia kom Dante op sy reis in die omstreke van die hel die twee verliefdes Paolo en Francesca teë. Hulle is deur Francesca se man, Paolo se broer, vermoor nadat hy die twee op heter daad betrap het. Rodin verbeeld hulle in die oomblik net voor hul dood – in roekelose hartstog. Rodin and the Art of Ancient Greece is tot 29 Julie in die British Museum in Londen te sien.