Ware dramas raak al gewilder. Willie Burger kyk hier na vier sulke boeke wat onlangs verskyn het
TV-programme oor werklike polisieondersoeke is baie gewild en talle ander sogenaamde “real life drama”-programme word op verskeie kanale uitgesaai. Soms is hierdie verhale insiggewend, soms skokkend en dikwels word dit só aangebied dat ander daaruit kan leer.
Niemand twyfel daaroor dat mense in ons samelewing aan geweldig baie spanning blootgestel is nie. Ons hoor daagliks van mense wat aangerand is, wat verdwyn het of vermoor is. Ons hoor ook van selfmoorde, van ’n gesukkel om geregtigheid te probeer vind. Die vertellings wat ons hieroor hoor, is baie keer tweedehands; op hoorsê gegrond.
Ongelukkig is koerante en die elektroniese nuusmedia so besig om oor nuwe gebeurtenisse verslag te doen, dat daar selde by die gevolge van al die trauma stilgestaan kan word. Ruimte vir deeglike analise van enkele gevalle is daar nie. ’n Mens kry dikwels nie die “hele storie” nie.
Slegs enkele lesers, byna net dié wat ’n professionele belangstelling het, sal sielkundige werke of sosioloë se analises oor die gevolge van posttraumatiese stres, oor selfmoord of oor bipolêre siekte gaan raadpleeg. Almal hou egter van stories. As ’n mens boonop weet dat die storie wat jy lees ’n “ware verhaal” is, lees ’n mens dit skielik met meer aandag.
Tafelberg-uitgewers het duidelik besef dat daar ’n groot behoefte by lesers is om “ware verhale” te lees. Sommer vier boeke het die afgelope tyd verskyn waarin mense van hul ervarings vertel.
BIPOLÊRE SIEKTE – KYK MY IN DIE OË
deur Elsabé Brits
AS DIE STROOM JOU VAT – DIE RAAISEL VAN SELFMOORD deur Jeanne Els
KOPWOND – VERGETE SLAGOFFERS VAN DIE BOSOORLOG
deur Anthony Feinstein
BETRAYED – A MOTHERS BATTLE FOR JUSTICE
deur Carol Thompson
Al vier hierdie boeke is veel meer as blote vertellings van ’n eie hartseerstorie. Die hoogs persoonlike en traumatiese ervarings word in al die gevalle boeiend aangebied. In al die gevalle gaan dit ook oor meer as om ’n eie storie te vertel – die storie word telkens vertel sodat dit meer lig op ’n ingewikkelde situasie en verwikkelde probleme kan werp.
Elsabé Brits se hoogs persoonlike beskrywing van bipolêre siekte word eintlik ’n studie van die siekte waaraan sy lank gely het sonder dat sy daarvan bewus was en wat dikwels bloot as depressie beskou word. Die eerlikheid waarmee sy haar verhaal vertel, sonder goedkoop emosionele manipulering, gee insig en enigeen wat met hierdie siekte te doen kry, sal ontsettend baie hieruit leer.
Jeanne Els se boek is eweneens veel meer as die vertelling van haar eie selfmoordpoging. Sy voer ook onderhoude met ander mense (onder meer Steve Hofmeyr) wat ook probeer selfmoord pleeg het en doen navorsing oor spesifieke selfmoordgevalle (soos onder meer die selfmoord van die joernalis Chris Louw). Sy probeer om die “raaisel” oor waarom mense probeer selfmoord pleeg en waarom ander nie (weer) probeer nie, te verklaar. Die boek het ook ’n deel waarin praktiese raad deur ’n psigiater gegee word oor hoe om mense met selfmoordneigings te hanteer, asook raad aan agterblywendes. Net soos haar werk oor depressie, Ligdans, ontroer die eerlikheid ’n mens, terwyl dit nugter ondersoek is.
Anthony Feinstein se Kopwond sal by baie mans bo 45 wonde oopkrap. Hy beskryf sy ervarings as dienspligdokter. Sy beskrywings van die opleiding, die weermagprosedures en die kultuur van die jare tagtig (nie sonder humor nie!) bring baie herinnerings terug. Sy boek slaan nie die selfhelprigting van As die stroom jou vat in nie. Die blote beskrywing van situasies, van ’n dapper kaptein wat snags in sy nagmerries soos ’n vreesbevange kind uitroep, die chaos wat in ’n kontaksituasie deur vrees gesaai word en die euforiese gevoel onder die oorlewendes ná ’n skermutseling, lê die effek van oorlogstrauma op ’n ontstellende manier bloot. Veral vir geliefdes van diegene wat destyds grensdiens gedoen het, gee Feinstein se memoires insig in daardie ervaring, wat ’n effek op almal se lewens gehad het.
Carol Thompson se vertelling oor die moord op haar 25-jarige dogter, Tracey, is enige ouer se ergste nagmerrie. Om ’n kind te verloor is sekerlik die grootste emosionele skok wat ’n mens kan tref. As die kind boonop gewelddadig vermoor word en die saak nooit behoorlik ondersoek word nie, is dit om van waansinnig te word. Carol vertel die verhaal van haar pogings om geregtigheid te laat geskied, maar hoe sy haar ook teen ongelooflike onbevoegdheid en moedswilligheid in die polisiemag vasloop. Dit is ’n ontstellende verhaal, maar terselfdertyd bied dit ook troos en dwing dit bewondering af vir die menslike gees wat, ten spyte van hierdie soort ervarings, steeds kan voortgaan.