Vanjaar se Nirox-beeldhou-uitstalling is vir die eerste keer vir die publiek oop. Dié uitstalling is nog tot 29 Julie te sien
Artlogic se sesde Winter Sculpture Fair is verlede maand op die Nirox-landgoed in die Kromdraai-omgewing noordwes van Johannesburg aangebied. Dit was ’n naweek van kos- en wynstalletjies uit Franschhoek en die Wes-Kaap. Maar by dié geleentheid was vanjaar se Niroxbeeldhou- uitstalling ook vir die eerste keer vir die publiek oop. Dié uitstalling is nog tot 29 Julie te sien.
Vanjaar se uitstalling, Not a Single Story, word in samewerking met ’n buitelandse beeldhoupark, Wanås Konst in Swede, aangebied. Wanås Konst het meer as 50 werke op permanente uitstalling van kunstenaars soos Louise Bourgeois, Janet Cardiff, Ann Hamilton, Yoko Ono en Robert Wilson. In 2015 het Wanås se kurators, Elisabeth Millqvist en Mattias Givell, ses Suid-Afrikaanse kunstenaars genooi om werk vir die park te maak: Hannelie Coetzee, Igshaan Adams, Kudzanai Chiurai, Nandipha Mntambo, Mary Sibande en James Webb. Vanjaar is Millqvist en Givell saam met Benji Liebmann van Nirox die kurators van Not a Single Story.
Die helfte van die kunstenaars van wie werk ingesluit is, is Suid-Afrikaners en die ander helfte is van die buiteland. Onder die buitelandse kunstenaars is daar werk deur die ouma van konseptuele kuns, Yoko Ono, die Sweedse kunstenares Lena Cronqvist en verlede jaar se Turnerpryswenner, Lubaina Himid. Onder die Suid-Afrikaners is daar Jane Alexander, Ayana V Jackson, Esther Mahlangu, Zanele Muholi, Sophia van Wyk en Claudette Schreuders. Die titel van die uitstalling kom uit ’n TED-toespraak van die Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie waarin sy uitbrei oor die mag wat stereotipering mettertyd kry.
LEES OOK: Kuns: Britse Turnerprys
As mens lank genoeg aan ’n persepsie van iemand of iets blootgestel word, kry daardie persepsie gaandeweg “waarheidstatus”. As ’n voorbeeld gebruik sy die Amerikaanse media se voorstelling van Mexikane, as immigrante wat die VSA sonder die nodige dokumentasie binnekom onder meer om die gesondheidsorgstelsel uit te buit. Toe sy egter Mexiko besoek het, moes sy tot haar beskaming besef haar persepsie (single story) van die Mexikane is onwaar. Die werk wat vir die Nirox-uitstalling gekies is, het almal op die een of ander manier die oogmerk om ander kante van ’n storie te stel. Dié meervoudige stories kom onder meer tereg in die feit dat die fokus op vrouekunstenaars is, dat kunstenaars uit ’n wye spektrum ouderdomme ingesluit is, dat veel meer kunstenaars van Afrika ingesluit is, dat die Sweedse stem in die Wieg van die Mensdom opklink en ook dat ’n verskeidenheid kunstenaarspraktyke én media aan die orde kom.
So is daar tradisionele beeldhouwerk, in brons soos dié van Cronqvist en Van Wyk; daar is ’n houtbeeld van Schreuders; maar dan is daar ook van die kunstenaarspaar Peter Geshwind en Gunilla Klingberg ’n wiebelende organisme met die titel Lifesystems, gemaak van tentseil, termiese sakke en ruimtekomberse. Benewens die wensboom, Wish Trees for Hope, van die 85-jarige Ono, is daar werk van nóg twee tagtigjariges: dié van Cronqvist en Esther Mahlangu, die vrou wat Ndebele-patrone en -kleure soveel verder as die Hoëveld laat praat.
Selfs binne die beskerming wat die grondwet bied, is daar steeds gemarginaliseerdes en misdaad. Dit is Zanele Muholi wat in ’n aangrypende installasie die aandag vestig op lesbiese vroue wat vermoor word en Jane Alexander wat met Security nie net die kyker noop om oor beveiliging en diefstal na te dink nie, maar ook oor armoede en honger. Not a Single Story wys die ander kant van geykte persepsies. Vir meer inligting besoek www.niroxarts.com