Etikette/kassies vir kinders het ’n baie direkte impak op hoe hulle hulself sien
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Annie is ons kultuurkind en Herman is ons akademiese kind en Sanet blink uit in sport, maar in wiskunde is sy maar treurig … Ouers is geneig om kinders in spesifieke kassies te druk sonder om daaroor te dink – of dit nou positief of negatief is.
Maar wat as Annie eintlik ander talente het wat sy nooit kan uitleef nie of as Sanet net meer hulp met wiskunde kan kry … Wat as daardie kinders begin glo dat hulle nooit goed in sport, akademie of kultuur kan wees nie?
Hoe praat jy byvoorbeeld oor jou kinders waar hulle dit kan hoor?
LEES OOK: Só kan jy jou kind help
“Lenie kom maar net nie die mas op by die skool nie, terwyl ons nou weer geen probleme met haar boetie het nie …”
Chris van Niekerk, die hoof van Founders Hill College, sê hierdie etikette wat ouers om hul kinders se nekke hang, het nie net ‘n impak op die kinders se selfbeeld nie, maar ook op hul ervaring van die wêreld om hulle.
Hy verwys na Erikson se stadiums van psigo-sosiale ontwikkeling:
Ouderdom | Psigo-sosiale krisis |
Baba – 18 maande | Vertroue vs wantroue |
18 maande – 3 jaar | Outonomie vs skaamte en twyfel |
3 – 5 jaar | Inisiatief vs skaamte |
5 – 13 jaar | Arbeidsaamheid (ywer) vs minderwaardigheid |
13 – 21 jaar | Identiteit vs rolverwarring |
21 – 39 jaar | Intimiteit vs isolasie |
40 – 65 jaar | Ego-integriteit vs wanhoop |
Die ontwikkelingstadiums waar kinders die meeste deur sosiale etikette geaffekteer word, is hul skooljare waar hulle nie net gereeld interaksie met ouers het nie, maar ook met ander kinders, onderwysers, afrigters en dies meer, sê Chris.
“Daarom is dit die fases van 5-13 jaar en 13-21 jaar waar hul psigo-sosiale ontwikkeling tussen gevoelens van minderwaardigheid en waardigheid huiwer en hulle hul identiteit vestig of verward oor hulself voel.
“In 5-13 jaar (laerskooltyd) is die uitkoms van ontwikkeling dat kinders waarde in hulself moet vind en ywer aan die dag moet lê. Die positiewe etikette moet daarom selfvertroue by kinders kweek dat hulle voel asof hulle regte dinge kan doen en sal goed vaar as hulle hard werk,” vertel Chris.
Chris se raad vir ouers
Jy kan jou kinders help deur gesonde werksetiekgewoontes by die huis en skool te kweek. Help byvoorbeeld jou kinders met ‘n realistiese studierooster vir die eksamen.
Sien jou kinders se werk raak en prys hul deursettingsvermoë en werksetiek deur byvoorbeeld te sê: “Ek is so trots op jou harde werk” of “Dit lyk asof jy so hard werk om hierdie kwartaal goed te doen”.
LEES OOK: My kind sukkel reeds!
Skep geleenthede vir jou kinders om ywer aan die dag te lê by die huis – groter kinders kan dalk een keer per week kosmaak en komplimenteer die poging dan.
Vermy negatiewe etikette in hierdie fase wat gevoelens van minderwaardigheid by jou kinders kan skep. Kinders in hierdie ouderdomsgroep verander daagliks soos wat hulle groei en ontwikkel en hulle is baie bewus van die feit dat hulle verander, leer en groei.
Daarom is dit belangrik om woorde te vermy soos: “Jy is pateties”, “Jy is lui”, “Jy doen nie goed genoeg nie”. Hierdie tipe kommentaar sal groei onderdruk en dit kan deur die kind geïnternaliseer word en dan waar word.
As jy bekommerd is oor iets waarin jou kind nie goed doen nie, sê dit op ‘n manier wat die kind nie afbreek nie. Eerder: “Dis nie hoe ek jou ken nie, ons weet mos jy kan beter doen.” Dit gee die kind dan die kans om beter te doen.
Waardevolle terugvoering aan jou kinders oor hul gedrag en die gevolge daarvan is krities om goed gebalanseerde, suksesvolle grootmense groot te maak.
Ouers en onderwysers moet ons kinders bemagtig na sukses.
Besoek www.foundershillcollege.co.za