Op sy reise het Béla Bartók meer as 10 000 melodieë versamel en dit met wetenskaplike noukeurigheid gekatalogiseer
Deur JOHAN MYBURG
Die regte soort landelike musiek. Dit is waarna die Hongaarse komponis Béla Bartók op soek was. Die soort musiek wat wyd geskakeerd is, wat verbluffende uitdrukkingskrag het en terselfdertyd van sentimentaliteit en oordrewe versiering gestroop is. Die sigeunermusiek wat so ’n beduidende invloed op die komposisies van Johannes Brahms (1833–1897) en Bartók se landgenoot Franz Liszt (1811–1886) gehad het, was té verfynd vir Bartók (1881–1945) se smaak. Te stadsgebonde. Waarna hy op soek was, was die minder verfynde tradisionele melodieë wat die een geslag ná die ander in landelike gemeenskappe aangegee het.
Die sang van ’n vrou uit Transsilvanië (’n streek in Hongarye en vandag deel van Roemenië) wat hy in 1904 gehoor het, het dié soeke ’n reisplan gegee. In 1906 het die 25-jarige Bartók die eerste van vele togte onderneem om volksmelodieë te gaan soek en op te teken. Tussen 1807 en 1912 het hy die huidige Roemenië en Bulgarye besoek; in 1913 Noord-Afrika, veral dele van die hedendaagse Algerië; en in 1936 het hy Turkye besoek. Op hierdie reise het hy meer as 10 000 melodieë versamel, dit met wetenskaplike noukeurigheid gekatalogiseer en vir homself naam gemaak as een van die stigters van die vergelykende musiekwetenskap, wat later ook as etnomusikologie begin bekendstaan het. In vele opsigte was Bartók ’n baanbreker.
In plaas daarvan om met die notering van die melodieë wat hy teëgekom het, te volstaan, het hy ook van ’n destyds nuwe uitvinding, opnames met ’n akoestiese silinder, gebruik gemaak om ongewone karaktertrekke en stylaarde in die musiek vas te vang. Sy droom om aan ’n “broederskap van mense” gestalte te gee, het uiting gekry in sy Danssuite (1923) waarin hy van Hongaarse volksmelodieë gebruik maak, maar ook die Roemeense en Arabiese klankwêreld betrek. In 1934 het hy saam met sy landgenoot Zoltan Kodály (1882–1967) en ander begin om Hongaarse volksmusiek te publiseer. Die gestrooptheid en gebrek aan sentimentaliteit wat Bartók so in volksmusiek waardeer het, het in sy eie komposisies neerslag gevind.
LEES OOK: Klassieke klanke: Peter Martens
Sy soeke na eenvoud en sy wantroue in die oordrewenheid van die Romantiek het daartoe gelei dat hy lank komposisies vir tradisionele orkesinstrumente vermy het. Die ses strykkwartette wat Bartók teen die einde van sy lewe geskryf het, word as van die 20ste eeu se vernaamste werk in dié genre beskou. Die première van sy Klavierkonsert no. 2 was in Januarie 1933 in Frankfurt, maar toe Adolf Hitler in Duitsland aan bewind kom, het Bartók geweier om weer voet in dié land te sit. Hy het ook alle uitvoerings van sy musiek in Duitsland verbied. Toe Hongarye voor die Nazioormag val, het Bartók en sy vrou na die VSA uitgewyk en hulle in New York gaan vestig.
In 1942, toe hy reeds siek was – hy is in 1945 aan leukemie dood – het hy die onbegeleide Vioolsonate geskryf wat hy aan Yehudi Menuhin opgedra het. Die Klavierkonsert no. 3 wat hy in die VSA geskryf het, het duidelik ’n wyer gehoor in gedagte gehad, sonder om sy kenmerkende styl in te boet. Bartók se nalatenskap is sy vermoë om ’n sintese tussen musiek soos dié van die klassieke meesters en nuwe elemente uit ander tradisies – dié van sy land se volksmusiek en ook van ander lande – te bewerkstellig. Op dié manier het hy nuwe werke gekomponeer met ’n sterk persoonlike identiteit en ’n hegte band met die musiektradisie waaruit hy gekom het.