Ons vra elf vrae aan die aktrise en storieverteller, Marion Holm:
1. Hoeveel eenvrou-vertonings het jy die afgelope 14 jaar agter die rug?
Sussie is nou suur, die eerste een, debuteer in 2004 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en word ook op DVD opgeneem. Daarna volg Sussie rafel nou uit, Braaivleis, rugby, sunny skies en Sussie, Sussie: Survivor (Kuilsrivier), Cirque du Sussie” en die afsluiting van hierdie karakter, Sussie: Cheers! Saam met Chris skryf ek Met die Holm gebore, wat in 2010; [email protected] in 2011; Holmakiesie in 2012 en Holm: Ge-Marionneer by 2013. HOL Marion! By 2014 se KKNK debuteer. word in 2015 benoem vir ’n Fiësta-toekenning vir beste solovertoning. Hierna volg Die Kaap is weer Holms in 2015; Marion Holm vir beginners, Ag, kom ek val sommer met die Holm in die huis en nou Operasie Holm. Ek het verskeie Fiesta-nominasies vir beste solo met die Holm-optredes gehad.
2. Het jy ’n lewensleuse?
Vet, maar fiks. Ek bly fiks, want as jy nie na jou soepelheid en stamina omsien nie, gaan jy nie ’n eenvrouvertoning oorleef nie. Jy kan tog nie vir die gehoor sê jy sou graag nou wou buk om die storie beter te vertel, maar jy kan nie! Die gehoor sal verloor as jy minder beweeg; iets sal hulle pla, maar hulle sal nie hul vinger daarop kan lê nie.
3. Wat weet min mense van jou?
My eerste instink op hierdie vraag is, “Who cares?” maar nou goed. Ek is mal oor klassieke musiek en ’n Afrikaanse poësie-fanatikus. Ek glo dit moet soos in Plato se tyd, hardop op dorpspleine gelees word. Ek het ’n brandende vlam binne my dat goed inklusief moet wees – Franse restaurante, goeie wyn, musiek, teater; dit moet jou nie dom laat voel nie. Dit moet vir almal toeganklik wees. Ontoeganklikheid en ongeregtigheid is vir my onaanvaarbaar.
4. Wat sal jou vriende van jou sê en hoe belangrik is vriendskappe in jou lewe?
Ek het die heel beste vriende in die wêreld en dis hoekom hulle so goed klaarkom. My vriende is my rots.
5. Jy doen ’n Nataniël-nabootsing, wat amper beter is as Nataniël self. Hoe leer jy daardie stemtoon, uitdrukkings en so meer?
Ek maak al van kindsbeen mense na of dit nou my suster se stem is, of mense se gewoontes en gesigsuitdrukkings. Ek het saam met Nataniël grootgeword, toe sy ma, tannie Marie, vir my Kinderkrans gegee het. Ek hoor en sien mense en dan voel ek hoe dit voel om soos hulle te praat en te beduie.
6. Wat was ’n hoogtepunt oor die jare?
Toe ek vir Sukovs Liewe Heksie gespeel het. Ek is mal oor Liewe Heksie; sy is een van my heroes en daardie jare was daar geld in teater, daar was ’n selfs ’n helikopter wat uit die daK gehang het. Ek is ook lief vir Pippie Langkous. Die boek lê voor my bed en ek lees dit graag.
7. Hoe lyk jou ideale ontspandag?
Ek het genoeg geslaap en word sonder ’n wekker wakker. Ons reis iewers op die platteland; Italië of Frankryk dalk. Dis 16 grade Celsius buite, nie warmer nie, nie kouer nie. Die mense langsaan se honde blaf nie aanhoudend nie. My vriende is almal daar. Ons stap dorp toe en doen inkopies by markies en pak dit in my lapsak. Ek dra tekkies en ’n koel rok. Ons stap, want dis niks gevaarlik nie. Daar is geen ongeduldige mense nie. Ek stap alleen huis toe, want my vriende wil by ’n museum inloer. Ek begin kook; ek skil elke aartappel met sorg, kerf elke boontjie stadig. Terwyl die kos kook, neem ek ’n salige middagslapie. Teen die tyd wat ek wakker word, is my vriende terug en ons kuier om ’n lang tafel. Ons eet, ons drink goeie wyn, ons lag tot laat, want niemand is haastig nie en niemand moet huis toe ry nie. Dit word koeler en ek gaan haal ’n truitjie vir my skouers. Daar is gaas voor die vensters en geen muskiete of vlieë nie. En dit beteken ek moet in die hemel wees, want dit gebeur nie op aarde nie!
8. Sal jy ooit vir ’n baas kan werk?
Ja, ek doen tans! Chris Vorster, die feeste … oukei, nee, ernstig, ek sal kan ja. Maar die baas sal moet bereid wees om vrae te beantwoord. “Hoekom presies wil jy hê dit moet só gedoen word, as hierdie metode baie effektiewer is?”
9. Jy het lank gelede teater gegroet oor verhoogvrees. Hoe maak jy deesdae daarmee?
Ek was vir hipnoterapie by James de Villiers en nou het ek nie meer die fobie nie. Ek het nou net gewone vlinders soos enige ander mens voor ’n verhoogoptrede.
10. Waarvoor sal jy jou siel verkoop?
Tyd, om nie haastig te wees nie. Presies die teenoorgestelde van “gedruk vir tyd” te wees.
11. Wat is op jou emmerlys?
Ek hoop regtig iemand laat vir my baie geld in sy testament na, sodat ek vir altyd kan reis; oraloor, aanhoudend. Ek wil sien hoe mense in ander lande leef, eet, kuier. Ek het soveel plekke wat ek nog wil sien en wil ook graag na Schleswig-Holstein gaan waarvandaan die eerste twee Holm-broers na Suid-Afrika gekom het.