Willie Burger kyk na ’n boek oor renosters, asook ’n speurriller
Die pa-en-seun-span van Clive en Anton Walker lewer met Rhino Revolution. Searching for new Solutions, ’n belangrike bydrae tot die stryd teen die uitwissing van renosters. Dit is ’n pragtige boek, met kleurfoto’s wat aan foto’s in die National Geographic herinner en ’n keurige uitleg wat ’n mens byna laat lus voel om die boek op die koffietafel uit te stal. Maar dit is ook ’n wetenskaplike boek, met grafieke en tabelle en gegewens wat spruit uit die jongste navorsing oor renosters en oor die stryd teen renosterstropery.
Moontlike oplossings vir die probleem word ook aan die hand gedoen. Ons is almal bewus van renosterstropery en hoor kort-kort in die nuus van nog renosters wat in die een of ander wildtuin doodgemaak is. Een van die redes waarom renosters ’n bedreigde spesie is, is dat hierdie diere, volgens die voorwoord deur Kelly Enright, nie ’n “spirituele ruimte in internasionale kulture” het nie. Renosters het nie die “oulikheidsfaktor” van ’n pandabeer nie en ook nie die mitiese status van ’n leeu of ’n olifant nie en die gevolg is dat hulle ook nie in die media as oulike of mitiese diere voorgehou kan word nie.
Die media-aandag val daarenteen dikwels op die onveilige situasie van renosters, eerder as op die skoonheid en interessantheid van hierdie diere. Die bedreiging wat hulle in die gesig staar, word dan beklemtoon deur beelde van bloedige en verminkte karkasse of stapels renosterhorings wat moet dien om mense aan die wreedheid van die mensdom te herinner. Hierdie soort blootstelling is nie noodwendig die beste vir hul oorlewing nie. Clive en Alan Walker se boek is ’n poging om hierdie situasie om te keer. Hulle beskryf Rhino Revolution as ’n opvolgwerk op Rhino Keepers, wat in 2012 ook deur Jacana uitgegee is. In hierdie nuwe boek beskryf hulle die lot van swart- en witrenosters in Suid-Afrika. Hulle ondersoek die lesse wat uit die verlede geleer kan word en hoedat Suid-Afrikaners se veranderde lewensomstandighede sedert 1994 ook renosters se voortbestaan beïnvloed het.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Boereverneukers en Onaantasbares
Hulle bespreek ook die moeilike vraagstukke oor die toekoms van renosters en of wettige handel in renosterhorings sal kan bydra tot hierdie diere se oorlewing. Dit is ’n pragboek wat op toeganklike maar wetenskaplik verantwoorde wyse inligting oor renosters bied, oor hul habitat en gewoontes, maar ook op die lang geskiedenis van bedreiging deur jagters. Die Walkers is passievol oor renosters, maar verval nie in romantisering en emosionele betoë nie. Hulle vra op nugter en rasionele wyse waarom renosters beskerm behoort te word, en hoe dit gedoen kan word. Uiteindelik bly dit egter ook ’n pragtige boek om deur te blaai.
In Moordvis, Irna van Zyl se debuutroman, het lesers reeds kennis gemaak met die speurder Storm van der Merwe. In Gifbeker keer hierdie speurder terug met haar honde en kollega Andreas Moerdyk. Op die buiteblad word die leser reeds meegedeel “Moord is op die spyskaart”, en daarmee word die aandag gevestig op die agtergrond waarteen die moorde plaasvind. Soos Schalk Schoombie se Rooi haring, speel Gifbeker ook af teen die agtergrond van die koswêreld. Wanneer ’n bekende koskritikus – ’n “kosblogger” – in ’n restaurant in Hermanus dood neerslaan, ontstaan die vermoede dat dit ’n beplande moord was – uitgevoer deur middel van giftige sampioene.
Storm moet vinnig optree, want dit is maar die eerste moord. Sy moet ook vinnig veel van die wêreld van ontwerperskos, allerlei eetmodes en sjefs leer. Die spanning bou op wanneer nog meer mense vermoor word en die groot prysfunksie waartydens die land se beste sjefs byeen gaan wees, moontlik op ’n ramp kan afstuur as Storm nie gou genoeg antwoorde kan vind nie. Spannende speurrillers is baie gewild. Hulle tel immers onder die voorste fiksieverkopers en ’n baie groot persentasie van TV-reekse en flieks staan ook in die tradisie van speurrillers waarin geheime teen ’n asembenewende spoed opgelos moet word met nuwe kinkels wat die speurders se soeke na geregtigheid bemoeilik. Resepteboeke tel weer op hul beurt onder die beste nie-fiksie-verkopers en talle TV-programme, rubrieke en tydskrifte word aan kos gewy. Van Zyl het met Gifbeker dus ’n wenresep wanneer sy die twee gewilde genres verbind. Mens lees dele van die roman met ’n mond wat water, en by ander dele kou jy jou naels.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.