Alto Wynlandgoed is gewis een van die gerespekteerde rooiwynmakers in die land
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Alto Wynlandgoed het onlangs ’n groepie gaste genooi vir ’n vertoonstuk van drie wynstyle en kultivars, oor verskeie oesjare.
Die middagete is aangebied deur Bertho van der Westhuizen, slegs die vyfde wynmaker in die landgoed se lang geskiedenis. Alto is op die Annandalepad, tussen Stellenbosch en Somerset-Wes, maar die funksie in die pragtige Souk Restaurant in Kaapstad se Langstraat gehou.
Gaste kon die Alto Shiraz 2015 en 2016 saam met die gerookte charcuterie en kaas op ’n geroosterde knoffel-ciabatta; die Alto Cabernet Sauvignon 2013 en 2014 met die geroosterde eendborsie op ’n wortelpuree; en die Alto Rouge 2015 en 2016 met die beesvleis op ’n gebrande uiepuree met geroosterde eksotiese sampioene proe.
Die kaasbord en koffie is met die wyn van gaste se keuse bedien.
Behalwe vir al die ander pryse wat die landgoed se wyne gereeld inpalm, was van die wyne wat by die geleentheid geproe is ook uitgesonder in The Special Report on South African Wine deur die gerespekteerde VK wynmeester, Tim Atkin. Hierin het die Alto Cabernet Sauvignon 2014 92 punte en die Alto Rouge 2015 en Shiraz 2015, 91 punte behaal. Tim Atkin se verslag is veral belangrik, omdat die VK een van Suid-Afrika se hoofmarkte is; en dit deur die wêreld se connoisseurs as ’n belangrike gids tot wynbelegging gesien word.
Wat die proe van ander kos-en-wyn pasmaat middagetes laat verskil het, was die feit dat die proe in twees gedoen is; elke wynkultivar eers op sy eie en toe met kos, voor daar na die volgende kultivar of styl oorgeskakel is. Dit was opmerklik hoe die wyne met en sonder kos verskil het en ook hoe elke gas se gunstelinge verskil het.
“Alto se terroir lewer voortdurend uitstekende vrugte op al die variëteite en daarom kan ons met gemak sê dat Alto ’n rooiwyn-spesialis is,” het Bertho aan gaste vertel. Hy het egter beklemtoon dat Alto meer is as net die gewilde Alto Rouge en ook wonderlike Cabernet Sauvignon en Shiraz maak. “Maar ons bewys weer en weer dat Stellenbosch Cab-kontrei is,” het hy bygevoeg.
Hy het voorheen by ander landgoedere gewerk, maar in 2015 saam met sy pa, Schalk, die pars meegemaak en sy pa het toe na 42 jaar by die plaas die tuig neergelê en sy seun het by hom oorgeneem. Die 2015-oesjaar lê hom dus baie na aan die hart.
Alto het sy naam te danke aan die hoë ligging van sy 93ha wingerde wat aan die granietgrond aan die skouers van die Helderberg – ’n dramatiese agtergrond in die Stellenbosch-distrik – vasklou.