Willie Burger skryf in hierdie reeks oor literêre kritiek
In hierdie reeks oor literêre kritiek is reeds na drie “fases” in die Afrikaanse literatuurkritiek gekyk: eerstens ’n fase waarin “nasionalistiese kritiek” oorheers het, waartydens die feit dát in Afrikaans geskryf word eintlik belangriker geag is as hóé in Afrikaans geskryf is. Soos wat die idee van die bestaan van ’n Afrikaanse letterkunde gevestig geraak het, het die klem van kritiek later verskuif na “estetiese kritiek”, gerig op die individuele tekste en die samehang van elke teks in isolasie.
Teen die einde van die 1970’s het daardie soort teksgerigte kritiek toenemend onder druk gekom, so is in die vorige aflewering beweer, omdat die politieke en sosiale situasie al meer vereis het dat sowel die literêre werke as die bestudering daarvan, nie van die sosiale en politieke situasie losgemaak kan word nie. Om bloot ’n gedig of roman as “estetiese objek” te bewonder, is reeds ’n politieke keuse en dra tot die behoud van ’n bepaalde ideologie by.
Verder het die opkoms van literêre teorie in hierdie tyd daartoe gelei dat literêre tekste se konteks al meer aandag ontvang het. Literêre werke is vanuit kritiese invalshoeke ondersoek om vas te stel hoedat hulle aan die vestiging en bevestiging van mag aandadig is, veral ten opsigte van ras, geslag, klas en godsdiens. Die “kritiese model” van literatuurondersoek het sedert die 1980’s oorheersend geword, eintlik in byna alle vakgebiede binne die menswetenskappe, maar spesifiek ook binne literatuurkritiek. Die idee van ’n vaste kanon van “groot werke”, daardie bewonderenswaardige kunswerke wat om hul skoonheid bewonder word en wat geslag ná geslag studente moet leer om te waardeer, is al meer uitgedaag.
Vir wie is hierdie spesifieke werke so goed en mooi en bewonderenswaardig? Hoekom is dit hoofsaaklik manlike skrywers, of wit skrywers, en heteroseksuele skrywers of “Westerse” skrywers wie se werk tot die kanon behoort? Hoekom word pryse meestal aan mans gegee? As gevolg van hierdie soort vrae is talle werke “herontdek” en is die estetiese kriteria ondermyn en blootgelê as tyd- en situasiegebonde. Ons beleef nou egter ’n tyd waarin die “kritiese benaderings” tot literatuur uit verskeie oorde al meer bevraagteken word. Niemand wat die “agterdogtige”, kritiese benaderings wat klem op die konteks van tekste plaas, uitdaag, wil daarmee wegdoen nie, maar die vraag word al meer gevra of hierdie oorheersende model van literatuurkritiek die enigste behoort te wees.
LEES OOK: Ken jou storie: Literêre kritiek (5)
Uiteraard is dit moeilik om binne ’n oorheersende model van kritiese agterdog vir groter waardering vir en aandag aan die literêre teks self te pleit, want enige pogings tot dié soort kritiek kan dadelik as naïef afgemaak word en die vertrekpunte waaruit die ondersoeke gedoen word, kan as verdag aangedui word. Ten spyte van die oorheersing van agterdogtige kritiek, is daar egter al meer stemme wat opgaan vir ruimte vir ten minste ook ander benaderings tot literatuur. Die probleem wat baie mense met die kritiese, agterdogtige, “kultuurstudie”-model van literêre kritiek het, is dat literatuur dikwels daardeur in diens van die een of ander bestaande teorie gestel word.
Derek Attridge praat van “instrumentalistiese kritiek” wat uit hierdie benaderings spruit. Daarmee bedoel hy dat die literêre teks (of enige ander kulturele objek) met ’n vraag benader word en slegs as ’n middel tot ’n doel beskou word. Ek lees met ander woorde die gedig ten einde vas te stel hoedat opvattings oor ras of geslag of klas daarin manifesteer, op bedoelde, maar verskielik op onbedoelde en verhulde maniere. Attridge noem hierdie soort benaderings “instrumentalisties” omdat die bespreking van die teks uiteindelik die kritikus help om ’n bepaalde projek te bevorder – hetsy polities, moreel, histories of psigologies.
Die literêre teks word reeds vooraf as kop-in-een-mus met ’n bepaalde ideologie beskou wat dan deur die kritiek blootgelê word, om sodoende die bevryding van daardie ideologiese uitsluiting en onderdrukking te bevorder. Attridge erken dat hierdie instrumentalistiese metodes baie interessante insigte oplewer, maar volgens hom lewer dit ook baie vervelige kritiek op. Die probleem is dat die individuele kunswerk eintlik nie meer saak maak nie, dat dieselfde punt ook gemaak kan word deur ’n koerantberig, ’n TVadvertensie of ’n bufferplakker te bespreek.
Wat maak die lees van ’n literêre teks vir die meeste lesers egter boeiend en interessant? Waarom bestel mense romans teen groot koste of doen moeite om ’n digbundel iewers in die hande te kry? Beslis nie omdat hulle dit lees ten einde vas te stel hoedat vroue in hierdie boek uitgesluit word of om te ondersoek hoedat koloniale oorheersing op allerlei subtiele maniere in die boek verdoesel word nie! Lesers lees graag literêre tekste omdat dit ’n bepaalde effek op hulle het, omdat dit ’n ervaring bied wat nie deur die lees van ’n geskiedenisboek, ’n handboek oor die neurologie of ’n bespreking van die ekonomie gebied word nie (almal ook tekste wat waarskynlik met vrug krities gelees kan word ten einde vooroordele of bevestiging van ideologie bloot te lê). Gevolglik word uit verskeie oorde gepleit dat literatuurstudie en ook literatuurkritiek ten minste óók aandag moet gee aan die tekste self, aan die “estetiese ervaring” van die leser, aan die manier waarop ’n literêre teks die leser ook aan onverwagse en onvoorspelbare ervarings blootstel.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.