Willie Burger kyk watter boeke gedurende die prysseisoen geseëvier het
April is prysseisoen in die Afrikaanse boekewêreld. Die Universiteit van Johannesburg- pryswenners is onlangs bekendgemaak en kort daarna het die Letterkundekommissie van die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ook verskeie pryse toegeken.
Oor letterkundepryse, die waarde en belang daarvan, oor die kriteria waarvolgens komitees oordeel en die samestelling van komitees, sal altyd geredekawel word. Toekennings word dikwels gekritiseer. Vir baie lesers is dit egter ’n nuttige manier om boeke te kry wat waarskynlik die moeite werd sal wees om hierdie winter te lees. Die grootste en bekendste prys wat deur die Letterkundekommissie toegeken word, is die Hertzogprys. Dit is een van die oudste en prestigerykste literêre pryse vir Afrikaanse skeppende skryfwerk en word jaarliks om die beurt vir poësie, drama en prosa toegeken.
Hierdie jaar was die drama aan die beurt en die kommissie het besluit om die prys aan Pieter-Dirk Uys toe te ken. Volgens die reglement van die Hertzogprys kan werk in ag geneem word wat gedurende die drie vorige kalenderjare gepubliseer is. Uys se Afrikaanse toneelstukke is reeds in die 1970’s en 1980’s geskryf en opgevoer, maar is vir die eerste keer in 2015 as Stukke teater gepubliseer. Hoewel Uys vir sy eenmanvertonings bekend is, veral as Evita Bezuidenhout, was die Afrikaanse toneelstukke wat hy in die 1970’s geskryf het, baie belangrik.
Destyds kon hierdie toneelstukke nie vir die Hertzogprys oorweeg word nie, omdat die prys slegs aan gepubliseerde toneelstukke toegeken word. Indertyd is sy toneelstukke dikwels verbied. Stukke teater bevat die volgende dramas: Selle ou storie, Karnaval, Die Van Aardes van Grootoor, Panorama en Die vleiroos. Selle ou storie is in 1973 geskryf. Die stuk is goed ontvang en het vol teaters gelok, maar die opvoer daarvan is spoedig deur die Publikasieraad verbied. Hoewel die politieke onrus van die 1970’s ook ter sprake kom, staan ingewikkelde menseverhoudings sentraal. Vir die eerste keer in Afrikaanse teater kom biseksualiteit ook ter sprake. Die stuk is komies, maar eintlik is oudword en eensaamheid ’n belangrike tema.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Die laaste wals
Die tweede drama, Karnaval, is in 1975 ná tien opvoerings verbied weens die kritiek op die destydse regering. Die opspraakwekkende Die Van Aardes van Grootoor (1979) was eweneens nie slegs snaaks nie – dit krap diep in ’n bepaalde manier van Afrikanerwees. Ook hierdie stuk is in ’n stadium verbied. ’n Mens sou kritiek kon uitspreek teen die Letterkundekommissie se besluit om nou, dekades nadat dit opgevoer is, vir Uys te bekroon, maar Stukke teater is ’n nuttige boek wat nie net die toneelstukke bevat nie, maar hulle ook telkens in historiese konteks plaas en sodoende ’n belangrike deel van die geskiedenis van Afrikaanse (protes) teater dokumenteer. Bowenal bied die boek die geleentheid om hierdie belangrike dramaturg se bydrae tot Suid-Afrikaanse teater te erken.
SJ Naudé se roman Die derde spoel het sommer twee groot pryse ontvang. Die Eugène Marais-prys word jaarliks deur die Akademie aan “’n eerste of tweede bellettristiese werk van ’n skrywer in enige genre” toegeken. Benewens die Eugène Marais-prys is hierdie roman ook met die groot Universiteit van Johannesburg-prys bekroon. Vir albei die pryse word alle genres oorweeg en dit is duidelik dat die roman bo al die ander skeppende werk van die afgelope jaar uitgestaan het.
Die Universiteit van Johannesburg bied ook die grootste prys vir ’n debuutwerk aan. Die wenner daarvan is Jolyn Phillips vir haar digbundel Radbraak. Hierdie is ’n opwindende digbundel wat onder meer met identiteit gemoeid is en op boeiende maniere met verskillende registers van Afrikaans worstel.
Die Akademie bekroon ook sedert 1976 driejaarliks ’n buitengewone kleuterboek met die Tienie Holloway-medalje. Uitstekende werk waarin die verhaaltjies, versies en illustrasies indrukwekkend is, is ingeskryf en dit is verblydend dat daar so baie besonder mooi boeke vir kinders onder agt jaar uitgegee word. Die prys is aan Jaco Jacobs (skrywer) en Lilje Karsen (illustreerder) toegeken vir Grom.
Die Elsabé Steenberg-prys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur, nóg ’n prys wat driejaarliks toegeken word, het aan Kobus Geldenhuys gegaan vir sy vertaling van MG Leonard se Beatle Boy as Kewerknaap. Geldenhuys het talle werke in die afgelope drie jaar op besonder kreatiewe manier vertaal. Sy weergawes van Roald Dahl en David Walliams se werk sprankel soos die oorspronklikes.
Die Akademie ken die CL Engelbrecht-prys aan ’n pryswenner uit die vorige vyf jaar toe. Enige van die vorige vyf jaar se Hertzogpryswenners of wenners van die Hiemstraprys vir niefiksie kan oorweeg word. Die Letterkundekommissie het die prys aan Marlene van Niekerk vir haar bekroonde digbundel Kaar toegeken.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.