Agt vrae aan Neels van Jaarsveld en sy model-mooi vrou, Jeanne, wat op die voorblad van hierdie week se Vrouekeur is
1. Wat is die een persoonlikheidseienskap van jou maat, wat jy die meeste bewonder?
Jeanne: Neels is die positiefste mens wat ek ken – behalwe vir my ma! Dit is ’n ontsaglike belangrike eienskap om te hê in vandag se lewe! Hy kan hoog skiet na die sterre en sy voete bly plat op die aarde.
Neels: Jeanne gee om vir almal. Dis merkwaardig. Sy het selfs nou die dag ons buurvrou se gras gaan sny.
2. Neels, jy het verskeie Facebook-profiele. Watter een is die regte jy? En aanvaar jy almal wat jou uitnooi en hoe hou jy kop wie wat mag sien?
Almal is ek ja. Ek aanvaar almal, want ek hoop dat almal my sal aanvaar net soos ek is.
3. Hoe lyk jou ideale Sondag?
Miskien laat slaap as ons honde dit toelaat, anders gaan klim ons berg of gaan stap op die strand.
4. Het julle ’n groentetuin, kook julle graag en so meer?
Jeanne is mal oor ’n groentetuin, maar plante het tyd, liefde en geduld nodig. Ons is baie weg van die huis af, so my groentetuin sukkel maar!
5. Op jul facebook blaaie is daar foto’s van jul reis oorsee. Hoe het julle op Amerika besluit?
Neels: Ek is uitgenooi na die Tallgrass Film Fest in Wichita vir die twee rolprente, Jagveld en Vir die Voëls. As ’n ekstra wittebrood het ons sommer New York, Chicago en Washington DC ingepas.
Ek was uiters beïndruk met die Amerikaners se gasvryheid en effektiwiteit.
6. Speel jy nog gereeld gholf en kry jy tyd daarvoor?
Ek doen, maar mens kan altyd meer gholf speel.
7. Watter is jou gunstelinggholfbane en het jy ’n dryf om by elke dorp waar jy verbygaan of optree, gholf te speel?
Ek is mal oor Arabella, Parys, Al Fancourt se bane, Highlands Gate, Erinvale, Pearl Valley, De Zalze, Simola, Serengeti, Glendower, Royal J&K. Ek sal graag elke baan in SA wil speel en sommer in die dorpie ook optree!
8. Jy was een van die ambassadeurs vir die PLeace Awaken Celebrity & Living Legends Golf Tour waarvan die Suid-Afrikaanse been van 13-16 April by die Legend Golf and Safari Resort in Limpopo gespeel is? Kan jy uitbrei?
Dis drie dae van glanspersoonlikhede, gholf, vermaak, wat regdeur die jaar onder meer in Suid-Afrika, Jordanië, Indië, Malaysië, Australië, Hawai, Japan, Meksiko en Oostenryk gespeel gaan word. Bekendes soos Mark Fish, Pieter Koen, Brian Mitchell, Auma Obama en Amerikaanse akteurs soos Bill Smitrovich, Ron Masak, John O’Hurley en Grant Show het ingeskryf. Dit was ’n strawwe keuringsproses, maar ek moet vir Piet Pompies bedank dat hy my laat weet het daarvan. Hierdie toernooi het die potensiaal om mense op ’n internasionale vlak te betrek en te inspireer en gun ons die kans om terug te gee aan dié wat minder het.