Nelson Mandela het gesê: “Moenie my aan my suksesse meet nie, meet my aan die aantal kere wat ek geval en opgestaan het.”
In hierdie week se uitgawe skryf Anne Marais oor die “mag van mislukking”. Om te misluk of te faal, is ’n ervaring wat ’n mens kan maak of breek. Te dikwels laat ’n mens toe dat sogenaamde mislukkings jou breek. Hoekom? Omdat ons vernederd en skaam voel omdat sogenaamde sukses in ons samelewing so hoog aangeslaan word. Maar net soos mislukking relatief is, is sukses relatief. Ons almal moes in ’n stadium leer loop. Ons het nie die vermoë om soos diere direk ná geboorte op te staan en te loop nie. Dis ’n proses. En ons almal het in die proses van leer loop, telkemale geval.
Tog het ons aangehou en ná elke val opgestaan en weer probeer totdat ons sonder om te dink, kon loop. Daai deursettingsvermoë verloor ons iewers op die pad van grootword. Ek ken geen ouer wat ’n kind wat leer loop, nie aanmoedig nie. Elke poging tot ’n tree word met uitbundige geesdrif gevier. Daai aanmoediging raak ook iewers op die pad van grootword minder. En die klem op sukses groter. Dis hoekom mislukkings ons so maklik van ons deursettingsvermoë kan beroof. Ons moet onsself met elke mislukking herinner aan die tyd toe ons sonder skaamte en vernedering telkemale opgestaan en weer probeer het. Ons moet ons ook daaraan herinner dat elke hoofstuk deel van ons storie is en dat mislukking nie ons hele storie is nie, maar net ’n hoofstuk.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.