Willie Burger kyk verder na literêre kritiek
In 1986 het Ronel Johl ’n boek geskryf met die titel Kritiek in krisis. Hiermee het sy aangedui dat die teksgerigte literatuurkritiek wat die vorige twee dekades die oorheersende vorm van Afrikaanse literatuurkritiek was, in ’n krisis beland het.
In die vorige aflewering in hierdie reeks oor literatuurkritiek is aangetoon dat ’n fokus op “estetiese kriteria”, en die metodes van “stiplees” of “close reading” van tekste sedert die laat 1950’s en veral die 1960’s ’n sentrale plek in die Afrikaanse literatuurkritiek ingeneem het. Van Wyk Louw het ’n groot rol daarin gespeel dat afgereken is met die ouer impressionistiese kritiek of kritiek wat op die outeur, “die mens agter die boek”, gerig was. Hy en talle ander kritici het hulle vir ’n meer verantwoordbare kritiek beywer. Die sogenaamde “stilistiek”, ’n Nederlandse weergawe van stiplees wat op die taalgebruik van literêre werke fokus, asook die invloed van die Russiese Formalisme en die Anglo-Amerikaanse close reading het die teksgerigte literatuurkritiek onderlê.
Hierdie teksgerigte kritiek het teen die 1980’s in ’n krisis beland. Verskeie denkverskuiwings het tot hierdie krisis aanleiding gegee. Die eerste is dat die humanistiese beskouing waarvolgens literêre tekste beskou is as kunswerke met ewige waarde en wat ewige waarhede en skoonheid bevat, sedert die Tweede Wêreldoorlog al meer in onguns geraak het. Toenemend het geloof in ewige waarheid en skoonheid plek gemaak vir die besef dat literêre tekste – soos alle ander kultuuruitings – tyd- en plekgebonde is. Hulle onstaan in spesifieke omstandighede en kan nie aanspraak daarop maak dat hulle die openbarings van ’n hoër waarheid is vanuit ’n ewige ruimte agter die tyd en plek waarin hulle ontstaan nie. Tweedens het literatuurteorie in die 1960’s in Europa ’n tyd van opbloei beleef.
Die teoretiese nadenke oor letterkunde het tot agterdogtige vrae vanuit Marxistiese en Freudiaanse uitgangpunte gelei. Literêre tekste is dikwels ondersoek om te sien hoedat mag daarin funksioneer en hoedat magsverhoudings in die omgewing waarin die tekste ontstaan, funksioneer. Tekste is al meer benader as verdoeselings van vooroordele in die samelewing, uit die literêre werke en die omstandighede waarin hulle ontstaan kan mens aflei hoedat die waardes van ’n sekere klas, geloof, ras of gender daardeur bevestig word, dit laat voorkom asof hierdie vooroordele “natuurlik” is, terwyl ander uitgesluit word.
Sommige teorieë het ook meer aandag aan die lesers as aan die tekste gegee wat onder meer gelei het tot die besef dat betekenis nie vas en ewig en waar aan ’n teks gekoppel is nie, maar altyd in sekere omstandighede toegeken word. Derdens het ook die sosiale en politieke situasie binne Suid-Afrika baie verander met toenemende druk op die apartheidsregering – binnelands sowel as uit die buiteland. In sulke plofbare politieke omstandighede kan die letterkunde, en ook die literatuurkritiek, tog nie maar net aangaan met die bewondering van mooi gedigte of die fyn analises van rymskemas en taalgebruik nie?
LEES OOK: Ken jou storie: Literêre kritiek (4)
Skrywers en kritici kan nie net viool speel terwyl Rome brand nie. Waarde-oordele wat op die mooiheid, die samehang, die vorm van die literêre tekste berus, is al meer met agterdog bejeën as verdoeselde uitoefening van mag. Tekste sowel as literatuurkritiek is al meer krities ondersoek ten einde verskuilde of onbedoelde uitlatings aan te dui, om te wys hoedat tekste eintlik sekere opvattings verdoesel, sekere mense uitsluit en ander bevoordeel. Literatuurkritiek verander in hierdie omstandighede. Al hoe minder word waarde-oordele oor die individuele tekste in resensies uitgespreek. Die lees van tekste gaan immers nie meer in die eerste plek daaroor om te beslis of ’n boek goed of swak is nie, of oor hoe heg die struktuur daarvan is nie (want wie se norme word in elk geval gebruik?), maar daar word eerder aangedui aan watter gesprekke die tekste deelneem en hoedat tekste sekere aspekte van die samelewing problematiseer.
Dikwels word selfs meer agterdogtig daarna gekyk – hoedat die outeur se intensie eintlik ondermyn word omdat die taal sy/haar eie vooroordele en bevoorregting bevestig. Baie van die kritiek wat gedurende die 1990’s geskryf is, bestaan telkens uit ’n lang verduideliking van die konteks en die teoretiese benadering (dikwels in ’n tegniese vaktaal wat vir baie lesers wat nie in teorie onderlê is nie, vervreemdend is), eerder as ’n analise en interpretasie van die teks. Hierdie oplossing van die krisis van kritiek was natuurlik noodsaaklik, want sodoende is daar ontsnap uit ’n situasie waarin letterkunde en literêre kritiek eintlik irrelevant geword het.
Die teksgerigte benaderings het dikwels nie in ag geneem dat die teks in ’n koloniale omgewing tot stand gekom het en dat dit ten nouste met die koloniale denke en raamwerk vervleg is nie. Of dat dit in ’n middelklas- ontstaan het en eintlik so gemoeid is met middelklaswaardes en idees en oordele dat dit nooit los daarvan kan kom nie. Te maklik is maar net aanvaar dat literêre tekste wonderlike kunswerke is wat bo tyd en plek en omstandighede verhewe is met ewige waarde. Die kritiese teorie het ons daarvan bewus gemaak dat ons nie sommer so onskuldig kan lees nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.