‘Die Vatikaan se restoureerders en kunskenners loop met hul oë wawyd oop. Ons bly soek. En die soektog hou nooit op nie’
Deur JOHAN MYBURG
In 1508 het die 65-jarige pous Julius II besluit sy persoonlike kwartiere in die Vatikaan kort ’n bietjie aandag en bowendien was sy voorganger, pous Alexander VI, se woonplek reg onder hom heelwat deftiger.
In 1492, die jaar waarin kardinaal Rodrigo Borgia die troon van die heilige Petrus as pous Alexander VI bestyg het, het Alexander die skilder Pinturicchio in diens geneem om sy kwartiere te versier. Vir die pous was koste nie ’n kwessie nie en Pinturicchio het met sy fresko’s sy werkgewer gevly. Met helder kleure, reliëfwerk en ruim gebruik van bladgoud het Pinturicchio sy naam verewig en die pous se glans en heerlikheid (dit was tog Alexander se oogmerk) laat skitter. Verstaanbaar dus dat Julius voor die einde van sy lewe (wat eers in 1520 sou wees) iets moes doen om Alexander se praal te oortref.
Dit was die 25-jarige Rafael van Urbino wat die sleutel tot sy ewige roem sou wees. Rafael (wat ook in 1520 op 37 jaar dood is) se opdrag was gewoon: Doen die vertrekke heeltemal oor. Rafael en sy span kunstenaars het aan die werk gespring en die ontvangskamers van begin tot einde met fresko’s versier. Dié kamers, wat vandag as die Rafael-kamers bekendstaan, word saam met Michelangelo se plafonskilderye in die Sistynse kapel as die hoogtepunt van die hoog-Renaissance in Rome gereken. Rafael het egter net drie van die vier vertrekke voltooi. Hy het planne gehad vir die Konstantyn-banketsaal, maar hy is dood voordat hy dié werk kon begin. Die werk is afgehandel deur die span kunstenaars wat vir hom gewerk het. Altans, so is jare lank geglo.
LEES OOK: Kuns: Leonardo da Vinci se Salvator Mundi
Einde verlede jaar het navorsers egter tot ander insigte gekom. Die Vatikaan is tans besig met restourasiewerk aan die Rafael-kamers – een van die belangrikste bewaringsprojekte wat die Vatikaan sedert die werk aan die Sistynse kapel onderneem is. Dié Rafael-projek behoort teen 2022 afgehandel te wees. Tydens die restourasiewerk is vasgestel dat twee figure in die Konstantyn-saal inderdaad deur Rafael geskilder is en dat hulle waarskynlik die laaste werk was wat hy gedoen het. In die boek, vertaal weergegee as Die lewe van die voortreflikste skilders, beeldhouers en argitekte wat Giorgio Vassari in 1550 uitgegee het, verwys Vassari na Rafael wat in ’n nuwe eksperiment met olie aan twee figure begin werk het. Met dié verwysing in gedagte het die navorsers dié twee vrouefigure, die een die beliggaming van Geregtigheid en die ander van Vriendelikheid, ondersoek en bevind dit is inderdaad met olieverf geskilder – anders as die res van die vertrek in die tradisionele freskotegniek.
Ultraviolet en infrarooi foto’s het dié bevinding gesteun. Boonop het Fabio Piacentini, die Vatikaan se restoureerder, ná noukeurige ondersoek bevestig die kwaswerk is ook dié van Rafael. “Die manier waarop die kwas beweeg, is so eie aan Rafael,” het hy gesê. “Rafael se hand blyk selfs in die subtiele gebruik van die kwas om die kleinste haarspriete denkbaar te kan skilder.” En so het die wêreld oornag twee Rafaels ryker geword. Eintlik was hulle nog altyd daar. Die twee skilderye is nou vir die eerste keer in eeue as dié van Rafael geïdentifiseer. Het die Vatikaan nóg sulke geheime? Aan CNN het Barbara Jatta, direkteur van die Vatikaan-museum, gesê dit is onwaarskynlik. Nietemin loop die Vatikaan se restoureerders en kunskenners met hul oë wawyd oop. “Dit is die wonderlike ding van die projekte waarmee ons voortdurend besig is. Ons bly soek. En die soektog hou nooit op nie.”