In Intellektuele kringe was Winckelmann se boeke revolusionêr’
Deur JOHAN MYBURG
Francesco Arcangeli, ’n man wat in Julie 1768 in Italië tereggestel is, het die geskiedenisboeke gehaal, nie omdat hy ’n bydrae tot die vooruitgang van die mensdom gelewer het nie, maar juis omdat hy die “vader van die moderne kunsgeskiedenis” vermoor het.
Die Duitse kunshistorikus en argeoloog Johann Joachim Winckelmann (1717–1768) was op pad via München en Wene – waar die Habsburg-keiserin Maria Theresa hom vereer het – na Rome toe hy in Trieste oorgestaan het. In ’n alterkasie van die een of ander soort het Arcangeli die 48-jarige Winckelmann met ’n mes doodgesteek en met die blink munte uit die keiserin se beursie laat spaander. Winckelmann het nog ’n uur of wat ná die voorval bly leef en in besonderhede, soos dit ’n historikus betaam, verslag van die diefstal én die moord gedoen, wat dit maklik gemaak het om die moordenaar vas te trek, te veroordeel en te vonnis.
Waaroor Winckelmann nié beheer gehad het nie, is die stories wat ná sy dood aan die voorval gekoppel is, onder meer dat die kontak tussen dié twee mans heelwat meer om die lyf gehad het as net diefstal en moord. Hoe ook al. Dit het later geblyk Arcangeli het nie geweet Winckelmann is een van die invloedrykste denkers van die tyd nie. Hy het nie geweet van die twee opspraakwekkende boeke (oorspronklik in Duits) uit sy pen nie: Reflections on the Painting and Sculpture of the Greeks (1755) en The History of the Art of Antiquity (1764). In dié laaste boek het Winckelmann ’n omvattende en chronologiese oorsig oor antieke kuns gegee, van antieke Egiptiese argitektuur tot Etruskiese en ook Griekse kuns en kultuur.
LEES OOK: Kuns: Lothar Böttcher
Meer nog, hy was die eerste mens wat ’n onderskeid tussen Griekse, Grieks- Romeinse en Romeinse kuns getref het. Boonop het hy aangedui tot watter mate destydse sosiale en politieke strukture dit moontlik gemaak het om kuns voort te bring. In intellektuele kringe was Winckelmann se boeke revolusionêr. Dit was die eerste keer dat kuns só metodies beskryf is en Geschichte der Kunst des Altertums is onmiddellik in Frans, Engels en Italiaans vertaal. Vir hom was die oogmerk van kuns skoonheid, en dié oogmerk kon alleen bereik word as individuele en karakteristieke eienskappe streng aan die kunstenaar se algemene plan onderwerp word.
Die ware kunstenaar sou dié een wees wat met sy verbeelding deur die natuur kam om die ideale tipe te kan weergee – een waarin proporsies en harmonie gehandhaaf word. Hoewel sy siening van die Klassieke era besonder geïdealiseerd was en heelwat van sy teorieë om dié rede later bevraagteken is, het Winckelmann ’n leeue-aandeel in die totstandkoming van die Nieu-Klassisisme gehad wat van 1770 tot 1830 die Europese kuns, literatuur, filosofie oorheers het en ook die wetenskaplike grondslag vir argeologie gevorm het.
“Die enigste manier waarop ons grootsheid kan bereik, is deur die Grieke na te boots,” het hy onder meer aangevoer. Nietemin het hy Griekeland nooit besoek nie. Sy navorsing het hy gedoen op voorbeelde van Griekse kuns wat na die res van Europa en veral Italië geneem is. Verskeie internasionale simposiums en uitstallings is verlede jaar aangebied om Winckelmann se 300ste geboortedag te gedenk. Dié feestelikhede word vanjaar met die herdenking van sy 250ste sterfjaar voortgesit. In die Kapitolynse museum in Rome is die omvangryke uitstalling The Treasure of Antiquity: Winckelmann and the Capitoline Museum nog tot 22 April te sien.