Ek is mal oor dans, van vuurwarmtango’s en tradisionele Grieksedanse, tot Weense walse en ballet.
Ballerinas op die punte van hul tone is vir my die toonbeeld van grasie. Sit hulle op die maat van Elvis Presley se musiek en jy het ‘n aand van pure kykgenot. Dis wat ek ‘n paar weke gelede saam met van my geliefdes in die Joburg-teater beleef het.
My voete wou nie stilsit tydens die Bovim-balletgeselskap se opvoering van Private Presley nie. Hierdie week, met die afteken van dié uitgawe se blaaie, kan ek nie glo wat ek op bl 22 oor Simoné Botha lees nie. Dié ballerina is toe die einste een wat ek in die hoofrol in Private Presley sien dans het. Die een met die foutlose passies en perfekte ritme wat dit so maklik laat lyk het. Lees haar storie en jy sal my verbasing en bewondering vir haar begryp. Dié vertoning is tans in die Baxter-teater in die Kaap, maar as jy kaartjies wil bespreek, moet jy vinnig spring – dit is nog net tot 28 November 2015 op die planke.
Wat my by nog iemand met ‘n ysere wil en tonne deursettingsvermoë uitbring. Lindsay de Kock het al van 17-jarige ouderdom af eintlik konstant pyn. Waar baie mense, soos ook die geval met Simoné, hulself sou kon jammer kry en hul “toestand” of “agterstand” as ‘n verskoning sou kon gebruik om die lewe maar te laat verbyglip, is albei hierdie merkwaardige vroue vasbeslote om ten spyte daarvan die lewe ten volle aan te gryp. Ons het ‘n jaar of wat gelede ‘n artikel oor Irene Fischer in Vrouekeur gepubliseer en ek het onlangs haar boek, Ek is nog hier, gelees. Dis ‘n lekker-lees-boek in praattaal– jy hoor Irene terwyl jy lees. Sy draai nie doekies om nie, sê dit hoe dit vir haar is, meng haar taal en gee ons ‘n kykie in die lewe van ‘n vrou wat op ‘n hopie kon gaan sit en rou het ná ‘n lewensveranderende motorongeluk wat haar met breinskade gelaat het.
Sy sit egter allermins op ‘n hopie. Sy fokus nie op wat sy nie kan doen nie, maar op wat sy kán doen. Ons moet meer soos die Simonés en Lindsays en Irenes probeer om verby dit wat ons kan kniehalter kyk en fokus op dit wat ons het. Ons kan so maklik verskonings vir onsself uitdink of uitstel om iets aan te pak of ons volle potensiaal te bereik.Ons is óf te moeg óf te besig óf te skaam óf te bang óf te vet óf te wat ook al …Op Irene se Facebook-blad lees ek vanoggend ‘n aanhaling van Rachel Wolchin raak wat sy geplaas het: “My hele lewe kan in een sin beskryf word: dit het nie volgens plan verloop nie, maar dis oukei.”
Aan die Simonés, Lindsays en Irenes: Bravo! Julle laat julle nie afsit deur die lewe wat draaie met julle loop wat julle waarskynlik eerder sou wou misloop nie. Desnieteenstaande “dans” julle jul pad oop – of dit nou met ‘n cha-cha, ‘n jive, ‘n pirouette of meer in jou kop is.Ons moet almal meer dans. Dis goed vir ons. Of dit nou fisiek of metafories of albei is.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.