Die skooljaar het skaars begin, maar jy kan reeds sien dat dinge nie so goed gaan nie. Wat maak ’n mens?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Frikkie* is nege jaar oud en hou niks van skool nie, meer nog, hy verpes die skoolwerk en alles is ‘n gesukkel, van lees tot huiswerk. Sy ma bly hoop dat dinge beter sal gaan, maar eintlik weet sy dat dit ‘n probleem is wat aandag nodig het. En vinnig ook.
Cindy Glass, direkteur en medestigter van die Step Up-onderrigsentrums sê paniek, frustrasie, blaam en selfs woede kan ouers en leerders hulpeloos en selfs verneder laat voel.
Cindy gee wenke vir ouers:
- Besef dat foute en uitdagings deel van die lewe is. Kinders is nie robotte nie. Ouers moet onthou dat foute geleenthede vir groei is en dit ook vir hul kinders leer.
- Moenie paniekerig raak nie. Jy kan nie doeltreffende oplossings vind as jy fokus op wat verkeerd kan gaan nie. Paniek sal net tot jou stres bydra en na die kind oorspoel. Erken dat daar ‘n probleem is waaraan wel gewerk kan word.
- Ontwikkel ‘n positiewe werksverhouding met die onderwyser. Luister en werk saam as ‘n span om werkbare oplossings te vind.
- Moenie te veel druk op die kind plaas nie, want jou kind kan dan bloot net tou opgooi. Straf kan ‘n kind met ‘n swak selfbeeld net verder afbreek. Kinders wat in hul reeds vol programme ure se ekstra werk moet doen sowel as hul huiswerk kan gefrustreerd, moeilik, uitgeput en onproduktief maak.
- Stel realistiese doelwitte en realistiese studietye en verminder afleidings soos die TV en selfoon.
- Vra hulp met ekstra oefeninge en werk.
- Laat jou kind ‘n studievaardigheidskursus doen met vaardighede vir emosionele intelligensie. Dit kan net help as jou kind meer leer van motivering, empatie, sosiale interaksie en selfregulering.
As die rooi ligte flikker
Die opvoedkundige sielkundige Arina Lanser sê ouers behoort in die volgende gevalle vir hulp te vra:
Die kind …
… vermy sekere takies en sukkel regtig om take te voltooi.
… wil nie skool toe gaan nie.
… sukkel in die laer grade om sy naam te skryf, onthou nie basiese inligting soos sy adres of verjaardag nie.
… kan baie eenvoudige instruksies nie uitvoer nie.
… het probleme met perseptuele vaardighede.
… sukkel met aandag- en konsentrasiespan.
… het probleme met visuele persepsie en die ouditiewe weergee en herroeping van gebeure.
Besoek www.stepuped.co.za, www.drarinalanser.co.za