Mense wat hewig drink, het dalk groter gesondheidsgevare as wat hulle mag dink …
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Mense wat hewig drink se risiko om siektes soos demensie en alzheimersiekte te kry, is groter volgens navorsing wat in die Lancet Public Health-joernaal gepubliseer is.
Volgens die studie in Frankryk is dit veral mense wie se drankgewoontes hulle in die hospitaal laat beland wat hulle aan siektes soos vaskulêre demensie en alzheimersiekte blootstel.
Meer as ‘n derde, 38% van die 57 000 gevalle van demensie, was alkoholverwant en 18% het ‘n addisionele diagnose van alkoholverbruikversteurings. Mense met hierdie versteurings het ‘n drie keer hoër risiko vir alle soorte demensie.
Dr Sara Imarisio, hoof van navorsing aan Alzheimer’s Research UK, sê die studie het slegs na mense gekyk wat as gevolg van hul chroniese drankgewoontes in die hospitaal opgeneem is en wys dus nie die volle omvang van die verband tussen alkoholverbruik en demensie nie. Navorsing het ook al getoon dat matige drankverbruik moontlik ‘n negatiewe impak op breingesondheid kan hê.
Dr James Nicholls van Alcohol Research UK sê as swaar alkoholgebruik die risiko van demensie verhoog, is daar groot sosiale en ekonomiese implikasies. Daarom is goeie toeganklike behandeling vir alkoholmisbruik belangrik.
BRON: www.theguardian.com