’n Stokou kassie en ’n klein kombuis met min pakplek was die inspirasie vir hierdie retrokassie wat ’n mens aan die jare veertig se mallemeules en sirkusse herinner
Deur ELDALEEN HUGO
Met hierdie projek het ons verfghoeroe, Nicolas de Beer, gewys dat met ’n skeut kreatiwiteit, geskenkpapier en ’n laag verf of drie daar altyd ’n plan te maak is met dit wat jy beskikbaar het. Ons het ’n lendelam kassie omskep in ’n fokuspunt wat ’n probleem met pakplek vernuftig oplos.
Voor
Stap 1
Die ou verf is afgeskuur, weliswaar met die hulp van ’n spesiale hitteblaser (heatgun) en ’n skuurmasjien om dit makliker te maak.
Stap 2
’n Ou raam het perfek in die voorkant van die kassie gepas en ons het dit met houtgom en klein spykertjies vasgesit. Strokies hout is op dieselfde manier aan die voor- en sykante van die kassie vasgemaak om die ergste verwering te bedek. Ons het hardebord gesny om die agterkant toe te maak (die geskenkpapier is hierop geplak) en die boonste rak se oneweredige oppervlak is ook met ’n stuk hardebord toegemaak.
Stap 3
Die kleurskema – groen, rooi, swart en geel – is deur die geskenkpapier bepaal. Eers het ons die kassie rofweg met Granny B se Vanilla Cream geverf en daarna met Teacup Green om die groen skakering van die papier te kry. Met albei kleure het ons Granny B se Armour met die verf gemeng om dit sommer direk te seël.
Stap 4
Volgende aan die beurt was die verf van die hardebord wat die agterkant toemaak. Die binneste deel is oopgelos – dis waar die papier geplak gaan word. Die meet, sny en plak van die papier om die binnekant van die kassie interessant te maak en die tema aan te gee, is nie moeilik nie, maar ’n mens moet kophou om seker te maak jou afmetings is reg. Muurpapiergom werk die beste om die papier op die bord vas te sit. Sodra die gom droog is, seël die papier met Armour en sit dan die bord met klein spykertjies vas.
Stap 5
Waar die groen skakering rofweg geverf is, het ons die swart, geel en rooi plat geverf om ’n egalige, afgewerkte effek te gee. Ons het Granny B se Black Betty, Daffodil en Red Heart Love (twee lae elk) hiervoor gebruik en dit ook elke keer met Armour gemeng om dit te seël.
Afronding
Laastens het ons die hele kassie liggies met die growwe kant van ’n opwassponsie geskuur en vir die wis en die onwis weer oral met Armour geseël. Ná sowat twee uur het ons Cobra-vloerpolitoer oral aangesit, dit sowat 15 minute laat intrek en toe met die sagte kant van die sponsie gevryf om ’n mooi glans te kry.
Na
Wenk
Gebruik stewige geskenkpapier – dit plak makliker en frommel nie