Hier is 10 maniere om hierdie Valentynsdag ’n hart te steel sonder dat jy ’n bank hoef te beroof!
Die maand van liefde is toevallig ook die maand waar baie van ons steeds besig is om na feestyd-oorbesteding te herstel. Met minstens nog twee weke voor betaaldag, is die tydsberekening van Valentynsdag nie ideaal vir enige iemand se bankbalans nie!
“Die goeie nuus is dat daar baie innoverende maniere is om Valentynsdag te vier sonder om die bank te breek”, sê Susan Steward, Bemarkingsbestuurder van Budget Insurance.
Budget Insurance gee hierdie praktiese wenke vir ‘n prettige, bekostigbare Valentynsdag:
- Romanse begin tuis – los die dolheid van restaurante en kies eerder ‘n ete tuis. Stof daai kerse af en berei jou geliefde se gunstelingete voor, speel jou gunsteling-musiek en jou aand is gemaak. Jy kan ‘n smaaklike driegang-maaltyd tuis geniet teen sowat ‘n derde van wat dit jou in ‘n restaurant uit die sak sou jaag, sonder die moeite om parkering te soek, met verbouereerde kelners te werk en oorvol restaurante te trotseer.
- Gaan uit vir nagereg – net omdat jy nie kan uitgaan vir ‘n duur drie- of vyfgang-maaltyd maaltyd nie, beteken nie dat jy glad nie kan uitgaan nie. Eet ‘n lekker aandete by die huis en gaan geniet dan ‘n soet bederf by jou gunsteling koffiewinkel.
- Laat staan die oulike, maar oortollige goed – wat sal jou Valentyn met daai oorgrote, peperduur teddiebeer, beker of reuse rooi hartjiekussing doen? Dié goed hoop gewoonlik op in ‘n warboel van onnodighede, so spaar eerder daardie geld vir ‘n goeie bottel wyn of ‘n heerlike nagereg vir jou bly-by-die-huis aandete.
- Neem ’n soetsappige fliek uit en geniet dit saam – niks opdollie nie, niks betaal vir parkering nie en niks sukkel met ‘n gewemel van mense nie. Kry die springmielies reg, trek jou pajamas aan en geniet ‘n romantiese rolprent.
- Ontbyt in die bed – niks klop hierdie klassieke, koste-effektiewe gunsteling nie. Voeg ‘n paar interessante kinkels by, soos ‘n bottel gevul met “date night” idees vir elke maand tot en met die volgende Valentynsdag, of ‘n foto-album met jou gunsteling oomblikke van die afgelope jaar – en moenie vergeet om ‘n kiekie van jou smaaklike skepping te neem om by jou album te voeg nie.
- Raak kreatief met doen-dit-self koepons – maak jou eie koepons vir rug- of voetmasserings, of vir ‘n luilekker af aandjie, wat enige tyd gebruik kan word. Daar is baie praktiese dinge wat jou geliefde se lewe makliker sal maak, soos om die skottelgoed vir ‘n week te was of die inkopies vir ‘n maand te doen – die geskenk van tyd is van onskatbare waarde.
- Herleef jou eerste date – dis regtig pret, veral as julle reeds lank saam is. As jy dit nie presiés soos die eerste keer kan oorhê nie, vind ‘n soortgelyke alternatief en kry daai vlinders weer aan’t fladder.
- Vermy peperduur blomme – ‘n dosyn rooi rose sal jou maklik R400 uit die sak jaag, terwyl jy ‘n mooi bos sonneblomme teen sowat helfte die prys kan kry, so vermy die roos-cliché en oorweeg die vele ander blomme-opsies.
- Gee die geskenk van onverdeelde aandag – hierdie een is absoluut gratis! Het jy geweet dat, volgens ‘n studie wat deur Britse sielkundiges uitgevoer is, die gemiddelde jong volwassene tot en met ‘n derde van hulle tyd op hul fone spandeer? So, deur eenvoudig jou slimfoon vir ‘n paar ure neer te sit, wys jy vir daai spesiale iemand presies hoe lief jy hulle het!
- Maak self ’n kaartjie – Valentynskaartjies kan baie duur wees. Deur relatief goedkoop materiaal van ‘n kuns- en handwerkwinkel te gebruik, kan jy baie maklik ‘n verpersoonlikte kaartjie maak wat sonder twyfel baie meer sal beteken! Laai ons oulike Valentynskaartjies hier af of klik hier vir ‘n bietjie inspirasie.