Die lewe is gejaag en mense leef by mekaar verby. Zerelda Esterhuizen soek 15 maniere om die band met jou kinders stewig te hou
- Wys jou liefde fisiek. Gee jou kinders gereeld drukkies en hou hulle soms net vas.
- Sit nou en dan ‘n verrassingnota in hul kosblik of op hul kopkussing.
- As jou kinders nog klein is, lees ‘n boek saam. Bespreek ‘n boek met groter kinders en stel belang in wat hulle lees en doen.
- Probeer om gesprekke aan die gang te kry. Vra jou kinders hoe hulle oor kwessies voel en hoe hul dag was.
- Kyk hulle in hul oë as hulle met jou praat en slaan ag op wat hulle sê en hul lyftaal.
- Deel jou lewe met hulle. Vertel hulle van wat jy hou en nie en wat als in jou dag gebeur het. Deel ook jou drome.
- Toon respek vir jou kinders en hul behoeftes en sê dankie as hulle iets vir jou doen.
- Kyk saam na familiefoto’s en vertel hoe jou grootworddae was.
- Begin ‘n projek of stokperdjie saam.
- Eet saam as gesin en gesels hoe jul dag verloop het.
- Bestee tyd saam in die natuur en leer jou kinders ‘n waardering daarvoor.
- Leer jou kinders van vroeg af jul gesin se waardes en leer hulle om jul grense te respekteer.
- As jou kinders jul reëls oortree, waak teen ‘n te negatiewe reaksie en probeer dinge ook uit hul perspektief sien.
- Speel soms met jou kinders, of dit nou krieket, bordspeletjies of wat ook al is. Dit hou die bande stewig.
- Lag saam met jou kinders en wys dat dit ook pret is om by die huis te wees.