Ernest Hemingway het in 1954 die Nobelprys ontvang.
Willie Burger vertel meer van een van sy aangrypende verhale
Ek was nog baie klein toe my pa vir my ’n storie vertel het van ’n visserman wat ’n tamaai groot vis gevang het. Die vis het hom en sy skuitjie diep die see ingesleep voordat dit uiteindelik moeg gespook was. Die vis was so groot dat die man dit nie in sy boot kon kry nie. Hy moes maar probeer terugseil na die hawe terwyl hy die vis langs die boot sleep.
Voordat hy by sy vissersdorpie kon terugkom, het haaie die hele groot vis opgevreet. Gelukkig het die kop en die hele rugstring van die vis oorgebly en kon hy vir almal wys hoe groot die vis was wat weggekom het.
Eers jare later het ek Ernest Hemingway se The old man and the sea gelees. Natuurlik het ek die storie herken wat my pa my vertel het, maar met die lees van hierdie dun boekie het die gelukkige vissermanstorie ’n veel somberder draai gekry.
Hemingway het nie sonder rede in 1954 die Nobelprys vir onder meer hierdie werk ontvang nie. Dié eenvoudige verhaal wat in sy kenmerkende gestroopte styl vertel word, is uiteindelik veel meer as net nog ’n vissermanstorie.
Die ou man voer ’n groot stryd. Aan die begin is dit reeds duidelik dat die gemeenskap hom eintlik opsy skuif omdat hy te veel "slegte geluk" het. (Hy het in 85 dae geen vis gevang nie.) Die ouers van die seun wat saam met hom visvang, verbied hul seun om langer saam met iemand op see uit te gaan wat soveel "slegte geluk" het. Die ou man is honger en taamlik desperaat wanneer hy alleen op see uitgaan en die groot vis vang.
Hy veg drie dae teen die vis en die elemente. Daarna veg hy om die haaie van die vis af weg te hou en om uiteindelik na sy dorpie terug te keer. Dit gaan egter oor meer as hierdie uitmergelende stryd. Soos in baie van sy ander werk veg ’n dapper, taai man alleen teen ’n oormag. Hemingway is bekend vir sterk, manlike karakters – soldate, grootwildjagters, matadors – mense wat dapper en eerlik teen ’n oormag veg (meestal met die moderne samelewing se manier van doen bots) en uiteindelik alle hoop verloor.
Ná ’n bloedige stryd om ’n groot haai van sy vangs weg te hou, slaag hy uiteindelik daarin om ’n harpoen in die haai se kop in te dring en die dier te dood. Ongelukkig kry hy dit eers reg nadat die haai reeds ’n groot hap uit die vis gevat het en hy verloor sy harpoen in die proses. Hy is so teleurgesteld dat die vis geskend is, dat hy nie meer daarna wil kyk nie. Hy wens selfs dat hy nooit die vis gevang het nie. Dan praat hy egter hardop met homself: "’But man is not made for defeat,’ he said. ‘A man can be destroyed but not defeated.’" Hy hou aan om eers met sy mes en later ook daarsonder die ander haaie af te weer.
Ten spyte van al sy dapperheid verloor hy die vis wat genoeg kos vir die hele winter sou wees. Uiteindelik sê hy vir die seun: "’They beat me, Manolin,’ he said. ‘They truly beat me.’"
Terwyl die ou man steeds uitgeput en gewond lê en slaap, sien toeriste die lang rugstring en stert van die vis wat hy gevang het en dink dat dit ’n haai s’n is. Daarmee word bevestig dat sy dapper stryd om oorlewing geen impak in die groter wêreld maak nie.
so min woorde ’n leser
so baie laat ervaar
Weinig skrywers kan met so min woorde ’n leser so baie laat ervaar.
Resensente gebruik dikwels die frase "gestroopte styl" om na sekere skrywers se werk te verwys. As jy wonder wat dit beteken, kan jy gerus Hemingway se werk, veral sy kortverhale, lees.
Soos sy karakters het Hemingway ook ’n avontuurlike lewe van sport en jag en visvang gehad en aan die Eerste Wêreldoorlog deel gehad. Uiteindelik het die lewe ook vir hom te veel geword en hy het in 1961 selfmoord gepleeg. Vk