Tien vrae aan die aktrise Lea Vivier, wat nou in Binnelanders en Die Kasteel te sien is en einde April haar debuut in die fliek Wonderlus maak:
1. Jou van is nou Troskie op Facebook, maar jy is nie getroud nie?
O nee, glad nie! Ek het net my van op Facebook na my ma se nooiensvan (Troskie) verander, omdat ek graag my persoonlike profiel relatief privaat wil hou en nie soseer dit met my werk wil assosieer nie. Ek het ‘n openbare blad op Facebook gemaak om al die nuutste nuus oor my werk met die publiek te deel.
2. Hoe voel jy daaroor om dalk jou akteursvlerke oorsee te sprei? Sal jy Amerika of dalk Spanje oorweeg?
Mense is mal oor hierdie vraag sodra hulle uitvind dat jy ’n aktrise is. En my antwoord is altyd dieselfde: Nee. Zakes Mda het gesê dat, as ’n storieverteller is een van die grootste voorregte om in Afrika gebore te wees en te bly. Hoekom? Want ons het so baie kosbare stories wat ons nog moet vertel en wat ons nog kan vertel! Afrika (en Suid-Afrika) is ’n goudmyn van ongekende/onvertelde stories, en dis juis dit waaroor ek passievol is: mense en hul stories. So ek wil ons stories vertel. En as die vertelling daarvan my dalk oorsee kan vat na ’n internasionale rolprentfees toe, dan net soveel beter! Ek onthou dat ek die spesifieke besluit gemaak het toe ek Skoonheid in die fliekteater gekyk het. Ek het koue rillings gekry omdat die gehalte as ’n geheel net ongelooflik was! En toe besluit ek: As dit is wat ons, as Suid-Afrikaners, kan doen, dan wil ek nêrens anders werk nie.
3. Iemand het op jou Instagram-profiel gesê hoe baie jy in Wonderlus na Natalie Portman lyk. Is dit iemand na wie jy opkyk?
Definitief! Natalie Portman is een van my gunstelingaktrises. Ek volg haar loopbaan al vanaf haar Leon: The Professional dae af … O, daar is baie aktrises waarna ek opkyk. Die lysie gaan net aan en aan en aan en aan … van my gunstelingaktrises sluit in Judi Dench, Meryl Streep, Helen Mirren, Salma Hayek, Penelope Cruz, Audrey Tautou, Alicia Vikander, Evan Rachel Wood, Nicole Kidman … Waar hou ek op?!
4. Waar is huis en wat beteken dit vir jou?
Ek bly op die oomblik in Linden saam met ’n baie goeie vriendin, Chanél. Ons het op die stel van Wonderlus ontmoet. “Huis” is my gemaksone – waar ek in my slaapklere kan rondloop, my boek kan lees, en net stil kan word. Ons twee bly ongelooflik lekker saam en omdat ek baie gesins-georiënteerd grootgeword het, is dit vir my lekker om elke oggend vir haar ook ’n koppie koffie te kan aanbied.
5. Jou sussie is ook ‘n akteur. Voel jy nie dat jy en Trix meeding ompeteer in ’n baie klein bedryf nie of is sy daardie steunpilaar in die bedryf?
My en Trix se persoonlike verhouding kom eerste en dan ons professionele lewens. Trix is in die eerste plek my suster. En dan, in die tweede plek, is sy ’n aktrise. Alle aktrises oudisie maar saam – so jy kan sê dat ons in ’n sekere mate meeding. Maar nie meer of minder as wat ek en sy met enige ander aktrise in die bedryf kompeteer nie. En ja, ons is definitief mekaar se steunpilare. Ek vertrou vir Trix met my lewe en ek kan regtig weerloos wees voor haar. So wanneer ons sommer net oor die bedryf wil huil of kla, dan voel ons veilig genoeg om dit by mekaar te doen.
6. Het jy ’n lewensleuse?
“Just keep swimming” – dis my gunstelingaanhaling uit die animasierolprnet Finding Nemo. Dis eenvoudig en dalk kinderlik, maar dis die absolute waarheid. ‘n Mens moet altyd aanhou leer, aanhou probeer, aanhou werk, aanhou groei, aanhou vorentoe kyk. Ons is nie gemaak om te stagneer nie. Ek wil vir die res van my lewe aanhou leer!
7. Wat is jou sterk punt?
Ek is uiters hardwerkend.
8. En jou swak punt?
En uiters hard op myself. Dis die perfeksionis in my! My vriende spot my altyd oor die feit dat ek “OCD” is.
9. As ek jou beste vriendin sou vra, wat is jou beste eienskap?
Laat ek gou vir Chanél vra … Sy sê ek is baie nuuskierig oor die lewe en as ek met iemand gesels kan ‘n mens regtig sien ek stel belang en luister nie net om te antwoord nie – ek luister om regtig te verstaan. Sjoe, ek dink sy is reg. Ek is mal oor mense se stories. En ek wil graag mense verstaan. En ek hou daarvan om te luister. Mense se emosionele wêrelde maak my opgewonde – die intrige en kompleksiteit daarvan.
10. Jy het genoem dat Isabel Allende een van jou gunstelingskrywers is, het jy ’n gunstelingboek van haar?
Ek het omtrent al haar boeke. Ek moet erken dat haar bekendste boek, House of Spirits, het die grootste indruk op my gemaak. Dis die mooiste magiese realisme waarin ek net kan verdrink. Haar skryfstyl is soos musiek en ek verloor myself heeltemal in die fantastiese realiteit van haar boeke. Maar ek is ’n groot aanhanger van baie uiteenlopende skrywers – ek het onlangs Milan Kundera se The Unbearable Lightness of Being en ook Jonathan Rothfuss se The Name of the Wind gelees, en albei geniet. Die een boek word as filosofie fiksie beskou en laasgenoemde is fantasie. Só ek lees wyd en geniet ’n groot verskeidenheid literatuur.