In Finlandia gryp Sibelius iets van die stormagtige stryd om onafhanklikheid vas en hy eindig die stuk met grootse kalmte
Deur JOHAN MYBURG
Hoewel ’n mens nie aldag aan Finland as setel van groot klassieke musiek dink nie, het dié land ’n aktiewe musieklewe met toonaangewende dirigente wat wêreldwyd bekend is. Dink byvoorbeeld maar aan Esa-Pekka Salonen, wat ook ’n komponis van faam is, Jukka-Pekka Saraste, Leif Segerstam en Sakari Oramo. Dan is daar ook nog sangers soos die sopraan Karita Mattila en die bas Martti Olavi Talvela.
Maar as ’n mens van Finse musici praat, is dit sonder meer die naam van Jean Sibelius wat eerste by jou opkom. En daarmee saam ’n sterk skeut Finse nasionalisme. Finland was tot in 1917 deel van die Russiese ryk, maar het kultureel in die skadu van Swede gestaan. Johan Sibelius (1865–1957), as kind ook bekend as Janne, het soos sy ouers Sweeds gepraat, maar ná sy pa se dood het sy ma haar met haar kinders in Loviisa gevestig waar Sibelius op ’n jong ouderdom met musiek en die Finse taal kennis gemaak het.
Op tien het hy ’n viool van sy oom ontvang en sy tante het hom klavierles gegee. As jong student het hy sy naam na Jean verander. Hy het eers regte gaan studeer, maar spoedig het sy belangstelling in musiek die oorhand gekry. Sibelius het met die Kalevala kennis gemaak, een van die belangrikste tekste in die Finse letterkunde – wat ’n vormende rol in die totstandkoming van die Finse nasionale identiteit gespeel het – en dié epiese verhaal as vertrekpunt vir sy simfoniese toondigte gebruik.
LEES OOK: Klassieke klanke: Maurice Ravel
Teen 1890 was Sibelius as komponis gevestig met ’n reeks toondigte agter sy naam: Kullervo, En saga, Die swaan van Tuonela en die beroemde Finlandia. Met die beperkings wat die Russe op enige aanduiding van Finse nasionalisme geplaas het, is Finlandia onder allerlei titels uitgevoer, onder meer Vreugde tydens die ontwaking van die lente in Finland. In Finlandia, ’n werk van minder as nege minute, gryp Sibelius aan die een kant iets van die stormagtige stryd om onafhanklikheid vas en aan die ander kant eindig hy die stuk met grootse kalmte.
Dié bydrae tot nasionalisme het die Finse regering nie onbeloond gelaat nie. Tot en met sy dood is Sibelius as nasionale kunstenaar onderhou. Teen 1900 het Sibelius die internasionale verhoog met sy toondigte, maar ook met sy eerste twee simfonieë en sy Vioolkonsert betree. Sy Simfonie no. 2 is op 8 Maart 1902 die eerste keer in Helsinki opgevoer en dit is onmiddellik as ’n meesterstuk beskou. Dit is op ’n tyd geskryf toe die Finse taal en kultuur ernstig bedreig is en die gewildheid van dié simfonie het daartoe bygedra dat dit “die simfonie van onafhanklikheid” gedoop is.
Tot en met 1924 het nog vyf simfonieë gevolg. Benewens sy reputasie as nasionale held in Finland, het hy as een van die voorste dirigente van sy tyd roem verwerf. In sy dagboek het hy egter geskryf: “Om te kan lewe, is dit nodig dat ek moet drink.” Dit was dié verslawing wat daartoe gelei het dat hy ná 1926 bitter min gekomponeer het. Teen sy 70ste verjaardag is hy nietemin in die VSA en in Brittanje as die belangrikste komponis van sy generasie vereer. Jare lank het hy met sy Simfonie no. 8 geworstel en eindelik die voorsketse daarvan verbrand. Van 1940 tot en met sy dood in 1957 het hy kwalik enigiets geskryf.