Dit gaan nie oor skoonheid of proporsie of vakmanskap nie; dit gaan nie oor vaardigheid of oorspronklikheid of uniekheid of estetiese kwaliteite nie
Deur JOHAN MYBURG
Met die selektiewe oorsig oor die eerste 60 jaar van 20steeeuse kuns in hierdie rubrieke agter die rug, behoort ’n mens ’n redelike idee van konseptuele kuns te hê. Maar omdat dié begrip dikwels in verskillende gedaantes opduik, is dit dalk nuttig om weer daaroor te skryf.
Marcel Duchamp se “readymades” was voorbeelde van konseptuele kuns, maar eweso die happenings van die jare sestig se Performance-kuns, maar dan word daar gepraat van hedendaagse kunstenaars wat “konseptueel” werk. Hoe moet ’n mens konseptuele kuns dan verstaan? Die maklikste is dalk om aan “konseptueel” as ’n kunsbeweging of ’n enkele kunswerk te dink (wat ook al van toepassing is) waarin die idee, die gedagte as vertrekpunt, belangriker as die formele of estetiese komponente geag word.
Oorvereenvoudig: Hoe die werk lyk, is met ander woorde nie die belangrikste nie. Dit gaan nie oor skoonheid of proporsie of vakmanskap nie; dit gaan nie oor vaardigheid of oorspronklikheid of uniekheid of estetiese kwaliteite nie. Selfs nie oor bemarkbaarheid nie. Wat belangrik is, is die artistieke idee, die gedagte wat in die werk gekommunikeer word. Dis al. Nog verder geneem: Of dit “kuns” is, is nie eens meer ’n oorweging nie. Solank daar ’n boodskap is of solank die werk ’n reaksie ontlok.
Dink nou byvoorbeeld aan Andy Warhol se Brillo-bokse van 1964. Warhol het honderde replikas van laaghout van dié verbruikersartikel gemaak en die kunswêreld van sy tyd geskok. Wat was die verskil tussen ’n boks in ’n supermark se stoor en ’n boks in ’n galery? Dit was die belangrikste vraag. ’n Belangriker vraag was waarom mense bereid was om $1 000 vir ’n Warhol-boks te betaal. Die einste boks wat 40 jaar later op ’n kunsveiling vir $3 miljoen verkoop is?
LEES OOK: Kuns: Bernini se beeldhouwerk
Warhol se gedagte, die boodskap wat hy wou deurgee, is waarskynlik die eintlike komponent waarvoor soveel opgedok word. Die filosofie daaragter. Wat Warhol met sy honderde Brillobokse in 1964 gesê het, en dit is steeds van toepassing, is dat enigiets kuns kan wees. En … dat enigiemand ’n (konseptuele) kunstenaar kan wees. En konseptuele kunstenaars, weet ons, herdefinieer die konsep van die kunswerk tot só ’n mate dat versamelaars, galeryeienaars en museumkurators dit opraap. Eenvoud en gestrooptheid is kenmerke van konseptuele kuns en soms kom minimalisme ter sprake.
Maar dan nie Minimalisme in sy aanvaarding van die konvensies van skilder of beeldhou nie. Konseptuele kuns lyk nie na tradisionele kunswerke nie, en dikwels het dit hoegenaamd geen fisieke vorm nie. Dink aan die komponis en performance- kunstenaar John Cage se 4’33” (uitgespreek as vier minute 33 sekondes), ’n komposisie in drie bewegings waarin die pianis nie ’n enkele noot speel nie.
Die Amerikaanse kunstenaar Sol LeWitt het in 1967 geskryf konseptuele kuns gaan oor die beplanning en besluite vóór die werk gemaak word. Die maak van die werk is bloot terloops. Sedert Duchamp het konseptuele kuns of kuns met ’n konseptuele onderbou verskeie vorms aangeneem. In eietydse konseptuele kuns, met die fisieke maak van die werk nie noodwendig meer ’n terloopse noodwendigheid nie, het nuwe(r) media al meer populêr begin raak. En daarmee saam, in ’n tyd van politieke en ekonomiese onstabiliteit, die feit dat konseptuele kuns kykers tot sosiale aksie wil noop.