Hirst het metaforiese betekenisse aan rook as daad gekoppel – die nuwe sigaret staan vir geboorte, die aansteker vir God wat lig bring en die asbak vir die dood
Deur JOHAN MYBURG
Al kom daar niks van ons Nuwejaarsvoornemens nie, bly die gedagte van ’n nuwe blaadjie omslaan tog in die agterkop draal. Dié tyd van die jaar is daar nog die moontlikheid om van ’n paar nare gewoontes af te sien …
Drie handelinge wat elkeen die moontlikheid het om ons te verslaaf, is rook, drink en eet. En juis omdat dit so behaaglik is, vervaag matigheid mettertyd en voor jy jou oë uitvee, is jy gaar, suf en vet. Die kunstenaars Damien Hirst, Edgar Degas en Pieter Bruegel die Ouere bied drie perspektiewe. Wat ons daarmee doen, is seker ons saak … Die Britse kunstenaar Damien Hirst (1965) jaag mense gewoonlik in twee kampe: Óf jy is dol oor sy werk óf dit gaan by jou verby. In 1995 het Hirst vier asbakkie-kunswerke gemaak wat hy Horror at Home, Crematorium, Necropolis en Party Time genoem het.
Omdat Hirst streng kopiereg op sy werk het, moet jy uit dié beskrywing die kunswerk (in dié geval Horror at Home) as ’t ware versin. Met ’n deursnit van net minder as 2,5 m is Horror at Home ’n tamaai asbak van witgeverfde veselglas, kompleet met twee holtes as rusplek vir ’n sigaret. Die kante van die asbak is 700 mm hoog – die grootte van ’n stewige visdam dus. Dié asbak is gevul met die inhoud van meer as 15 rommelsakke wat Hirst van The Groucho Club in Londen gekry het, ’n klub waar hy in die 1990’s uitgehang het. En nou moet jy jou die bedompigheid van dié spulletjie in die sakke ná ’n aand se flink kuier in die klub voorstel.
LEES OOK: Kuns: Hoe koop jy kuns?
Hirst het metaforiese betekenisse aan rook as daad gekoppel – die nuwe sigaret staan vir geboorte, die aansteker vir God wat lig bring en die asbak vir die dood – maar in dié werk, sê hy, lewer hy kommentaar op die mens se futiele pogings om die “afgryse van rook te verminder”. Toe die Franse kunstenaar Edgar Degas (1834–1917) se Absintdrinker in 1876 die eerste keer uitgestal is, het dit soveel kritiek ontlok dat dit weggesit is en eers weer in 1892 uitgestal is. Met net soveel kritiek omdat dit so onthutsend was. Toe L’Absinthe of Dans un café (In ’n kafee), soos die werk ook heet, die volgende jaar in Engeland vertoon is, het die Victoriane onmiddellik ’n les daarin gelees: Dit is wat met jou gebeur as jy jou aan drank oorgee (absint in dié geval). ’n Ierse kunskritikus se eerste opmerking was: “Goeie hemel! Wat ’n slet! ’n Mens kan haar hele lewe op haar gesig lees.” Degas moes inspring en die deugde van sy twee modelle (vriende van hom) verdedig.
Waarin Degas slaag, is om die twee figure vroegoggend, of dan minstens helder oordag, in hul beskonke toestand vas te vang. Die tragiese alleenheid van twee mense met om hulle ’n gevoel van bleek verlatenheid. Pieter Bruegel die Ouere (c. 1525–1569) se Luilekkerland, wat van 1567 dateer, bied ’n blik op die mensdom van sy tyd wat hom spiritueel leeg aan brassery oorgee. Bruegel rakel in dié skildery iets op van dié mitologiese streek waar dit nie nodig was om te werk nie, waar kos en drank só oorvloedig is dat ’n mens eintlik net jou mond moet oopmaak en die gebraaide hoender of eend kom aangevlieg. Maar miskien is dit alles net kuns. En het dit niks met rook, drink, eet of sosiologie te make nie.