Smulpape kan by die splinternuwe Bellevue Restaurant en proelokaal die 1953 Pinotage en meer gaan proe
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
As jy van Pinotage en boonop geskiedkundige Pinotage praat, kan jy beslis nie Bellevue Landgoed in die Bottelary Heuwels buite Stellenbosch by die gesprek uitsluit nie. Hier het die algemene bestuurder en wingerdboukundige, Dirkie Morkel, soos sy pa en oom, oor die jare meer as 150 hektaar met 14 verskillende druifvariëteite beplant, waarvan die 40 hektaar Pinotage beslis die ster is. Die plaas het die land se eerste kommersiële Pinotage in die vroeë 1950’s geplant.
Die plaas is onlangs by Dirkie deur ’n eiendomsontwikkelaar, Marinus Neethling en sy vrou, Vicke, oorgekoop. Marinus besit ook vir Canto, ’n MCC-produserende plaas in Durbanville.
Bellevue was vir baie dekades in die Morkel-familie en die huidige wynmaker, Wilhelm Kritzinger, is al 16 jaar op die plaas. Hy het ’n vertikale proe van die Bellevue “1953” Pinotage 2015, 2016 en ’n vat-voorbeeld van die 2017-oesjaar, gelei. Die wyn het sy naam te danke aan die jaar waarin die wingerd geplant is. Hierdie blok was ’n droëland wingerd vir 64 jaar, voor die droogte die installasie van drup-besproeiing in Mei genoodsaak het.
Die druiwe is met die hand gepluk en het 18 maande in klein Franse eikehoutvate verouder.
Sjef Eddie Enslin het gaste trakteer op ’n gerookte salm en aspersie-terrine voorgereg, springbok-skenkel wat fyngekook, ontbeen en weer perfek gevorm is, om soos ’n skenkel te lyk en ’n warm camembert met neute, heuning en bessies.
Bellevue is in 1701 gestig en die oorspronklike Kaap-Hollandse herehuis dateer uit 1803. Wanneer jy na die nuwe restaurant stap, loop jou pad verby die 155 jaar oue kanon, wat toentertyd gebruik is om sein-skote af te vuur om plase binnelands te laat weet daar is bote in Tafelbaai.
Hoewel die hele landgoed ’n geskiedkundige plaas is, is die nuwe restaurant en wynkelder ’n vars, moderne ruimte.
Die spyskaart is ’n watertand keuse van slaaie, ligter voorgeregte en lekker hoofgeregte soos springbok-skenkel of liplekker pizza. Die restaurant het reuse deure wat na buite lei, waar die kinders lekker op die grasperk kan baljaar.
Die nuwe restaurant is van Dinsdag van Sondag van 09:00 tot 17:00 en Vrydag van 09:00 tot 19:00 oop. Meer inligting by 021 865 2054 of www.bellevue.co.za.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.