‘My ontdekking was die gat, en dit is dit. Ek is gelukkig om graf toe te gaan met dié ontdekking op my kerfstok’
Deur JOHAN MYBURG
Maar is dit kuns? Dit is ’n vraag wat ’n mens soms hoor. So kan ’n mens seker dié vraag ook ten opsigte van Lucio Fontana se Spatial Concept ‘Waiting’ van 1960 vra. Wat is die kuns daaraan? Dit is nie eens mooi nie. Wat is dit veronderstel om te wees? En so kan ’n mens aangaan.
Maar kunstenaars is nie noodwendig binnenshuise versierders nie en kuns het nie gerusstellende antwoorde as oogmerk nie. Kuns wil nie antwoorde bied nie, maar vra eerder vrae. As ’n mens kunstenaars beskou as mense wat die menslike bestaan wil ervaar en interpreteer – en dit nie noodwendig wil versier nie – kry ’n mens dalk ’n ander blik op kuns. Vrae is dikwels netelig en laat jou ongemaklik. Eweso wil kuns jou nie sus nie en wil jou ook nie laat glo alles is wel nie … Daarby staan enige gegewe kunswerk of -beweging binne ’n konteks of tradisie. Of juis lynreg teenoor daardie tradisie!
As ’n mens dié aspekte in gedagte hou, begin die werk van die Argentyns gebore Italiaanse kunstenaar Lucio Fontana (1899–1968) sin maak. Hoewel Fontana ook ’n beeldhouer was, is hy die man wat veral onthou word vir die doeke wat hy met ’n mes gesny of gesteek het. In 1951 het hy al benadruk dat die tyd van “gewone skilderye en beeldhouwerk” verby is’n Mens moet ’n paar goed in gedagte hou om aan dié opmerking reg te laat geskied. In die eerste plek moet ’n mens nie die verwoestende invloed van twee Wêreldoorloë, maar veral die Tweede Wêreldoorlog, uit die oog verloor nie.
LEES OOK: Kuns: Art Nouveua en Art Deco
Die ontgogeling wat op dié oorlog gevolg het, het op talle maniere in die kunste en filosofie deurgeslaan. Verder moet ’n mens in gedagte hou dat Fontana en sy geesgenote op eeue se kunsgeskiedenis teruggekyk het. Dit was nou die tyd, het Fontana gemeen, om “ná millennia van analitiese ontwikkeling in kuns te fokus op sintese”. Sintese definieer hy as die somtotaal van fisieke elemente: kleur, klank, beweging en ruimte wat in ’n ideale en tasbare eenheid integreer word. Fontana het in die laat 1940’s papier en skilderdoek begin sny en op dié manier die onderskeid tussen die twee en die driedimensionele laat vervaag.
Aanvanklik het hy verskeie “gate” in die doek aangebring, maar teen die laat 1950’s het enkele hale met ’n skerp lem kenmerkend van sy werkwyse geword. Aan die agterkant van die gaping in die doek het hy swart materiaal aangebring wat die illusie van ruimte agter die sny bewerkstellig het. Van die gesnyde doeke het hy ook van agter belig. Later het hy die doek nie meer geverf nie, maar die onbehandelde doek, oor ’n raam gespan, met ’n lem bygekom. Kort voor sy dood het Fontana in ’n onderhoud opgemerk: “My ontdekking was die gat, en dit is dit. Ek is gelukkig om graf toe te gaan met dié ontdekking op my kerfstok.” Hoe takseer ’n mens dan Fontana se kunswerke?
Moet kuns altyd iets beteken? sou ’n mens wou vra. Is die gevoel wat die kunswerk wakker maak of aanwakker nie reeds genoeg nie? Is die brutale aanval op die doek wat tradisioneel vir skilder gebruik is nie reeds ’n wekroep dat alles in die wêreld nié wel is nie? Fontana het by geleentheid dié hale met die wonde van Christus vergelyk. Dit is maar een moontlike verduideliking. Wat onbetwisbaar is, is dat Fontana ’n invloed gehad het op generasies wat ná hom gekom het.