Rocco de Villiers sê in CJ de Swardt se artikel dié week: “Ek wens meer mense wil teater toe gaan en musiek luister.
Rocco de Villiers sê in CJ de Swardt se artikel dié week: “Ek wens meer mense wil teater toe gaan en musiek luister. Dit hou ’n nasie gesond. Dit hou mense se koppe oop, dit laat hulle lag en ek hoop dit help om oorlog weg te hou! Ek streef daarna dat ons vry moet wees van oordeel en humeurigheid en dat mense mekaar sal aanvaar vir wie en wat hulle is.”
Ek kan nie help om te dink aan hoe mense se optrede en uitlatings wêreldwyd soveel hartseer, ongeluk en onmin saai nie. Is dit omdat ons nie met mekaar saamstem nie? Is dit omdat ons kwaad met kwaad wil vergeld? Hoe het ons ’n gemeenskap van haat en wreedheid geword? En hoe kan ons dit omkeer?
Dis met afgryse wat ek die berigte van die skietaanval op die Utoya-eiland in Noorweë gelees het. Dis asof ek nie wou glo wat ek lees nie. In ’n paar oomblikke van waansin het ’n magdom mense se lewens tot ’n einde gekom en is nog meer se lewens onomkeerbaar verander. Dit het net een fanatiese fundamentalis gekos om ’n idilliese eiland in ’n hel te verander. Hoe doen ’n mens dit aan medemense? Hoekom doen ’n mens dit?
Dis met dieselfde afgryse wat ek die berig gelees het van ’n Iranse vrou wat drie jaar gelede deur ’n man, wat nie wou aanvaar dat sy nie met hom wil trou nie, met suur in die gesig gegooi is. In ’n oomblik van waansin is die vrou geskend en blind gelaat, het haar lewe onomkeerbaar verander. Dit het net een fanatiese fundamentalis gekos om dié vrou se lewe in hel te verander. Hoe doen ’n mens dit aan ’n medemens? Hoekom doen ’n mens dit?
Dis weereens met afgryse wat ek die berig gelees het van ’n boer op Reitz in Suid-Afrika wat vasgebind, lewend in ’n vlak graf gegooi en gestenig is. Twee jong jeugdiges is as verdagtes in hegtenis geneem vir dié helse gruweldaad. Dis asof ek nie wou glo wat ek lees nie. Hoe doen ’n mens dit aan ’n medemens? Hoekom doen ’n mens dit?
Dis met verbystering wat ek die berigte lees van ’n rubriekskrywer van die Sowetan wat in sy rubriek geskryf het dat Ferial Haffajee, redakteur van City Press, “in die 1980’s waarskynlik ’n brandende buiteband om haar nek sou gehad het” omdat sy onder meer ’n “swart slang in die gras” is wat deur “wit kapitaal ontplooi is om onmin onder swart mense te saai”. Hy het sy rubriek afgesluit deur te sê: “Na die hel met Haffajee en haar soort.” Dis asof ek nie wou glo wat ek lees nie. Hoekom dink mense so? Hoekom sê mense sulke goed?
Dis met bewondering wat ek verder in die berig oor die Iranse vrou lees dat sy ten spyte van haar lyding, nie die hofuitspraak van “’n oog vir ’n oog” wou laat deurvoer nie. Toe ’n dokter haar aanvaller se straf moes volvoer deur suur in sy een oog te gooi om hom op dieselfde manier te verblind, het sy dit gekeer. Sy kon dit gewoon nie aan ’n medemens laat doen nie.
En met dieselfde bewondering lees ek in Beeld, ’n vertaling van ’n ope brief deur ’n 16-jarige seun, Ivar Benjamin Oesteboe, wat vyf vriende in die aanval op die eiland in Noorweë verloor het en die skietaanval oorleef het. Hy sê onder meer in die Dagbladet-koerant aan die aanvaller: “Ons reageer nie met boosheid op die bose soos jy wou gehad het nie. Ons beveg boosheid met die goeie … Jy het ons verenig … Jy het my vriende doodgemaak, maar jy het nie hul saak, hul mening en hul reg om hulself uit te druk doodgemaak nie. Moslem-vroue het Noorse vroue in die straat uit simpatie gedruk … Jou dade het jou doel teengewerk. Ons het ’n gemeenskap geskep … Jy verdien om te weet hoe jou plan gewerk het. Baie mense is kwaad, jy is Noorweë se mees gehate man. Ek is nie kwaad nie. Ek is nie bang vir jou nie. Jy kan ons nie bykom nie, ons is groter as jy.”
Dié twee mense se houding kan ons iets leer. Hulle kies om nie gevange gehou te word deur mense wat hul haat in dade en woorde omsit nie. Dis groots. Dit maak ’n mens vry en kweek ’n gesonder wêreld.
Kom ons luister eerder musiek en gaan teater toe. Die lewe is te kort om te haat.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.