Van Antonio Vivaldi (1678-1741) het die 20ste-eeuse Italiaanse komponis Luigi Dallapiccola gesê: Vivaldi het een concerto 500 keer oor geskryf – nie 500 verskillende concerti nie. ’n Opvatting wat Igor Strawinski geëggo het.
Die Rooi Priester van Venesië
As gevolg van sy rooi hare (dikwels verbloem deur die wit pruik soos dit gebruik was om te dra) het Vivaldi in sy leeftyd die bynaam “Il prete rosso” gekry. Hy is op 25-jarige ouderdom in 1703 as priester georden en was vir die volgende 30 jaar aan en af verbonde as vioolonderwyser (maestro di violino) aan die Pio Ospedale della Pietà (’n tehuis vir kinders) in Venesië.
Vir die Ospedale het hy verskeie werke geskryf en die jong orkeslede en soliste het mettertyd nie net meer selfvertroue gekry nie, maar ook buite Venesië aansien verwerf.
Benewens onderwyser en komponis was hy ook ’n uitsonderlike violis.
Die vier seisoene
Vivaldi se vier vioolkonserte van 1720, bekend as Le quattro stagioni as deel van die 12 concerti wat hy as op. 8 gepubliseer het, is ongetwyfeld dié komponis se bekendste werk en gewis ook een van die Barok se bekendstes.
Teen 1720 was die driedelige konsertvorm (stadig, vinnig, stadig) soos ons dit vandag ken ’n nuutjie en Vivaldi se verwerkings vir solo-viool en strykkwartet met basso continuo het heelwat bygedra tot die vestiging van dié genre.
Ander komposisies
Vivaldi het 49 vollengte operas geskryf – die meeste daarvan vir Venesië, maar wel ook vir opvoering in Firenze, Ferrara, Verona, Rome en Wene. Benewens die operas en sowat 500 konserte het hy 90 solo- en triosonates, talle kantates, motette en oratoria nagelaat.
Hy is in 1741 dood in Wene nadat hy hom die vorige jaar in dié stad gaan vestig het. Hy was 63.
Vivaldi op CD
As jy reeds Die vier seisoene het (indien nie, kyk uit vir die weergawe met Janine Jansen as solis op Decca 475 6907 DH), oorweeg gerus Vivaldi se agt fluitkonserte.
Die Switsers-Duitse fluitspeler Emmanuel Pahud is die solis saam met die Australiese Chamer Orchestra met Richard Tognetti as dirigent in dié weergawe op EMI Classics – 0946 3 47212 2 6