Graad R is rondom die tyd wat ’n kind begin om ’n sin van onafhanklikheid te ontwikkel en gevolglik begin om verantwoordelikheid vir hul gedrag te neem.
Graad R, ’n kritiese jaar in die vestiging van die grondslag van ’n kind se kapasiteit om ’n lewenslange leerder te word, is hoofsaaklik ’n oorbruggingsjaar vanaf die kleuterskool waar kinders steeds as “kleintjies” beskou word tot formele onderrig. Dit is rondom hierdie tyd wat ’n kind begin om ’n sin van onafhanklikheid te ontwikkel en gevolglik begin om verantwoordelikheid vir hul gedrag te neem.
Volgens Fiona Oldacre, departementshoof vir vroeë kinderontwikkeling en grondslagfase by Embury Institute for Higher Education moet “onderwysers en ouers kinders aanmoedig om onafhanklik te dink en op te tree sodat hulle die eise van graad 1 op emosionele en sosiale vlak kan hanteer”.
Alhoewel sy nie aanbeveel dat ouers en onderwysers van kinders verwag om hulle soos volwassenes te gedra nie, glo sy daaraan dat die vestiging van ’n sekere vlak van onafhanklikheid en kritiese denke kan bydra tot ’n afgeronde kind wat later in die lewe verantwoordelikheid kan neem. Fiona sê dat om nie sosiaal en emosioneel gereed te wees nie, een van die algemeenste redes is waarom kinders in graad R teruggehou word.
Die neem van besluite wakker onafhanklikheid aan
Intrinsieke motivering is wanneer die kind iets wil doen – die begeerte kom van binne en is die resultaat van die bereiking van ’n vlak van onafhanklikheid. Ekstrinsieke motivering, daarenteen, is waar die kind iets doen as gevolg van ’n eksterne faktor wat hom of haar druk om dit te doen, byvoorbeeld die dreigement van straf.
Kweek gesonde onafhanklikheid
Fiona sê dit is waarom positiewe versterking effektiewer vir groeiende kinders se onafhanklikheid is as wat straf is. “Om goeie gedrag te beloon moedig die kind aan om dit weer te wil doen,” sê sy.
Om kinders te prys vir goeie gedrag is ’n wonderlike vorm van positiewe versterking – solank dit opreg is. Dit is ook belangrik om kinders te verstaan en te weet watter gedrag redelik is om op verskillende ouderdomme van hulle te verwag. Om byvoorbeeld van kinders in graad R te verwag om vir lang rukke stil te sit en stil te bly, is onredelik, ongeag hoe gemotiveerd hulle is om hulle goed te gedra. Die stel van redelike doelwitte vir goeie gedrag sal minder frustrasie vir almal beteken.
Volwassenes gee aan kinders keuses deur hulle die geleentheid te gee om tussen twee belonings te kies. ’n Onderwyser kan dalk ’n ontevrede kind die keuse gee om die storie te kies wat die klas saam sal lees of ’n maat te kies om mee saam te werk tydens die volgende aktiwiteit.
Fiona stel voor dat belonings eerder ervarings as materiële dinge soos lekkers of geld moet wees. “As jy gedrag met materiële dinge beloon, is dit maklik om in ’n kringloop te beland om die voorwaardes moeiliker met elke nuwe beloning te maak,” sê sy. “Fokus op gehaltetyd en aktiwiteite wat jou kind sal geniet eerder as ’n fisiese beloning.”
Vind meer uit by www.embury.ac.za