Die Groot Plaasproe op Sandringham buite Stellenbosch is deur duisende mense bygewoon
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Vir baie stadskinders is daar nie sorgelose dae op oupa se plaas nie en die geleentheid om aan plaasdiere te vat, maar skraps. Die Groot Plaasproe is ’n nuwe toevoeging tot Agri-Expo Livestock, die mees gesogte vee-ekspo in Suid-Afrika.
Agri-Expo, ’n nie-winsgewende landbougenootskap, bevorder die beeld van landbou deur bemarkingsinisiatiewe soos ekspo’s, waaronder die Suid-Afrikaanse Kaasfees en Agri-Expo Livestock.
By Die Groot Plaasproe was daar was roomys-eet kompetisies, ponieritte, skaapskeer-kompetisies en kleingoed kon aan klein bokkies tot reuse bulle, soos Waldor die reuse- Italiaanse Romagnola-bul, vat. Dié vyfjarige 1,2 ton swaar bul is by die skou as Groot Gunsteling gekroon. Die hondevertoning was ook ’n groot gunsteling en binne in die reuse tent is die beesskou gehou, terwyl stalletjies allerhande landbouprodukte en lekker kos verkoop het.
Die publiek kon vanjaar vir die eerste keer vir hul gunsteling-dier by die ekspo stem – met Tolla (die Boerbok), Strepies (die een week-oue miniatuurdonkie), Stella (die wees-llama) en Clara (die Meatmaster) as Waldor se mededingers. Besoekers kon ook unieke proe-ervarings soos gin-gegeurde kaas, Wagyu en Boerbokvleis ontdek. Adam Tas, Nic Stevens en die Wildberries het gesorg vir musiek en besoekers kon selfs leer lyndans.
Volgens Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo (die organiseerders van die ekspo), is hulle opgewonde oor die entoesiasme waarmee sowel die publiek as die landboubedryf hierdie nuwe konsep ondersteun het. “Met die Groot Plaasproe by Agri-Expo Livestock slaag ons in ons doel om ‘n platform te skep wat mense die geleentheid bied om landbou weer van nader te ervaar,” sê Ehlers. “Ons bedank graag elke besoeker, uitstaller, vertoner en vennoot wat bygedra het om van die Groot Plaasproe en Agri-Expo Livestock ‘n reusesukses te maak.”
Andrew Masterson, ’n bekende beesteler wat geskiedenis gemaak het deur sowel vanjaar se suiwel- as vleisbees-interraskampioenskappe te wen, sê hy het nog nooit soveel mense by ’n beesskou gesien nie: “Dit bied vir ons ‘n wonderlike bemarkingsgeleentheid om ons beste diere aan die publiek bekend te stel.”
Waldor is een van die mededingers by dié gesogte vleisbees-interraskampioenskappe. Wanneer hy nie in die ring is nie, was hy en sy eienaars, Willem en Luzahn Wagener, deel van die Santam Diere-laning by die ekspo, waar veral kinders speel-speel meer van landbou leer. Hulle stalletjie, Wotan Romagnola Stud, is vanjaar aangewys as die wenners van die beste diere-uitstalling by die ekspo.
Die Groot Plaasproe vind volgende jaar op Saterdag 13 Oktober by Agri-Expo Livestock (Donderdag 11 tot Saterdag 13 Oktober 2018) plaas. Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za, volg Livestock op Facebook, Twitter of Instagram, of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of [email protected]