Willie Burger verduidelik hoe ons karakters in ‘n boek deur brokkies inligting en ons verbeelding leer ken
Natuurlik bestaan daar nie regtig mense soos Bart Nel of Anna Karenina nie. Hierdie "mense" in die storiewêrelde van spesifieke romans, bestaan net in ons verbeelding.
Wanneer ons ’n roman lees, kry ons klein stukkies inligting oor ’n bepaalde karakter in die verhaal: miskien ’n naam, (alle karakters het nie altyd name nie), ’n beskrywing van die karakters se gesig of kleredrag, van hul omgewing, optrede, emosies, hoe ander mense met hulle praat, ensovoorts. Uit al hierdie brokkies inligting "maak" die leser in sy/haar verbeelding ’n "mens". ’n Leser het dus minstens twee dinge nodig om storiekarakters te kan leer ken soos "mense": brokkies inligting en ’n verbeelding.
Inligting oor ’n bepaalde karakter in ’n roman neem gewoonlik nie die vorm aan van ’n beskrywing van ’n persoonlikheidstipe of van ’n persoonlikheidsafwyking soos wat dit in ’n sielkundehandboek (soos die DSM) beskryf word nie. Daar word dus nie eensklaps ’n lys van kenmerkende gedrag of persoonlikheidseienskappe van elke karakter gegee nie. Soos wat jy as leser verder lees aan die roman, maak jy geleidelik inligting oor karakters bymekaar, ’n beskrywing van hoe die karakter lyk hier, ’n emosie wat die karakter ervaar ’n paar bladsye verder, so tussendeur jou pogings om die "storie" te volg en om die omgewing waarin alles gebeur in jou verbeelding op te roep.
Die manier waarop die inligting oor ’n karakter in ’n roman aan ’n leser gegee word, staan soms as "karakterisering" bekend.
Daar word gewoonlik tussen twee maniere van karakterisering onderskei, naamlik direkte en indirekte karakterisering.
Direkte karakterisering is mededelings wat die verteller maak: "Die gemene en wrede wolf lê die arme, onskuldige Rooikappie voor."
Die leser word sommer direk meegedeel hoe hierdie karakters is: Die wolf is gemeen en wreed en Rooikappie is ’n onskuldige slagoffer. Hierdie soort karakterisering kom dikwels in sprokies voor, maar ook in talle populêre romans (speurverhale, avontuurverhale, romanses) waarin karakters soms eendimensioneel is. Hulle speel bloot die rol van booswig of held, waar die goeie ouens die slegte ouens moet oorwin en waar die klem op die aksie en spanning, eerder as op die karakters val.
Indirekte karakterisering vind plaas deur die emosies, ervarings, handelinge, voorkoms, woorde of gedagtes van ’n karakter te beskryf: "‘Jy, ou vrou, verdien nie om te lewe nie. Ek sluk jou sommer heel in. Ha-ha!’ lag die wolf met sy stink asem in die ouma se gesig."
In hierdie geval kan die leser uit die wolf se woorde en optrede aflei dat hy gemeen en wreed is. ’n Beskrywing van die wolf se grys pels wat op verraderlike wyse lyk asof dit van kleur verander, sy yslike lang tande in ’n bek wat op ’n gryns getrek is en sy sluipende beweging al in die skaduwees langs, kan die leser laat vermoed dat die wolf skelm, gemeen en wreed is.
In die eerste geval (direkte karakterisering), is die rol van die leser beperk. As leser aanvaar jy maar net die inligting oor die karakter wat vir jou gegee word. In die tweede geval (indirekte karakterisering), is die leser aktief betrokke. Jy moet jou eie raaiskote waag oor wat die inligting eintlik oor die karakter sê. Hoekom bly die karakter stil wanneer hy iets behoort te sê? Hoekom tree hy juis op daardie spesifieke manier op? Uit die antwoorde op hierdie soort vrae, maak die leser afleidings oor hoe die karakter is, wie die "mens" eintlik is.
Heel dikwels is die inligting wat op hierdie manier verkry word, teenstrydig. Dalk word ’n karakter deur die verteller as wreedaardig beskryf, maar uit die optrede van die karakter kry ’n leser ook ’n ander idee of kry begrip vir die redes van sy wreedaardige optrede. Só ontstaan meerdimensionele karakters.
Die belangrike is dat ’n leser vanweë veral die indirekte mededelings by die karakter "betrokke" raak. Hierdie mededelings vereis dat die leser sy/haar verbeelding moet inspan om afleidings oor die aard van die karakter te maak. Verder word die leser se verbeelding ook deur die sensoriese en ander gewaarwordings van die karakters betrek: die karakter wat ’n reuk ruik wat sedert die vorige aand aan sy vingers kleef, wat ’n prikkel op haar vel voel, wat skielik verblind word deur die skerp lig en aan wie droefheid soos ’n jas kom hang.
Hierdie soort gewaarwordings van die karakter maak dit vir die leser moontlik om die karakter tot lewe te verbeel. Omdat jy as leser ook al soortgelyke ervarings gehad het, begin jy met die karakter identifiseer. Jy gebruik jou verbeelding om die stukkies van die karakter bymekaar te sit en ’n gevoel van ’n mens soos jy te wek.
Hierdie idee van identifisering word in die volgende uitgawe verder geneem. Vk