Hoewel jou lof kort-kort besing word, oortuig jou suksesse jou glad nie dat jy suksesvol is nie. Dalk is jy ook ’n slagoffer van die sogenaamde indringersindroom
Zerelda Esterhuizen
Beulah* is superslim, maar twyfel aan haar eie vermoëns. Sy is ontwikkelaar van sagteware en word tans vir indringersindroom oftewel imposter syndrome behandel.
“Ek het die eerste keer van die sindroom gehoor toe ek op die internet opgelees het oor hoe ander programmeerders werk, hoe hulle druk ervaar en hoe dié wat aan angs en depressie ly, hul werk benader.
“Ek het toe uitgevind dat die soort onsekerheid, frustrasie en angs wat ek in ’n werksdag ervaar, heel algemeen in my beroep voorkom. Hoewel dit effens gerusstellend was, het ek bly dink my werk is regtig nie goed genoeg nie en dis net ’n kwessie van tyd voor iemand my gaan afdank.”
Beulah was telkens oor die laaste tien jaar verbaas as sy positiewe terugvoer van haar seniors en bestuurders gekry het. “Ek het selde gevoel ek doen my werk goed genoeg. Miskien is dit omdat ’n mens altyd voel jy kon soveel meer of dit soveel beter doen. Soms as ek met besonder moeilike werk sukkel, dan dink ek as my seniors besef hoe ek nou sukkel, sal hulle my sekerlik afdank …”
Beulah dink sosiale media speel wel ’n rol. “Dis daardie illusie dat al jou Facebook-vriende hierdie perfekte lewens lei en so suksesvol in hul beroepe is. Vroeër jare het jy gewonder of jy weer ou skoolvriende by die reünie gaan raakloop en hoe dit gaan wees en nou is dit elke dag ‘n skoolreünie as jou skoolvriende op Facebook is.”
Beulah sê hoewel sy probeer om objektief oor haar werk te bly, is sy steeds so ’n bietjie verbaas en verlig as haar salaristjek inbetaal word.
“Ek het gelees dat dit goed is om ’n stokperdjie te beoefen en neem nou klavierlesse, maar as ek nie genoeg oefen nie, wil ek nie voor my onderwyser speel nie! Ek kon nog noit vir ontspanning lees nie, wat ek wel nou doen, is om ’n slaaptydritueel in te stel.
“Ek skakel vroeg genoeg die TV of radio af, raak rustig en vat ’n koppie rooibostee saam bed toe. Ek blaai dan deur dekortydskrifte of skryf in ’n joernaal. Dis belangrik om dan net weer te onthou dat jy ‘n mens is en hierdie algemene huislike ding soos ’n beker tee en ‘n gemaklike bed is van die beste dinge in die lewe …”
Sielkundige se mening
Dr Hermann Liebenberg sê die oorsprong van hierdie sindroom kan ’n legio wortels hê. “Ek ervaar in praktyk dat die meeste mense wat minderwaardig en onseker oor hul werksukses voel, juis diegene is wat buitengewoon goed gekwalifiseerd is en selfs al daarvoor bekroon is.
“Ongelukkig is dit dikwels ook mense wat meer teruggetrokke is en baie sterk gedrewe is wat hulself en hul posisie binne hul werksverband bevraagteken.”
Hermann sê van die oorsake kan wees dat die lyer as kind trauma beleef het of ten spyte van gemiddelde of selfs buitengewoon goeie prestasies deur ’n ouer of ouers afgebreek is.
“Dikwels is daar ‘n geskiedenis van boeliegedrag waar introverte, intellektuele kinders by die skool verneder en gespot is. Nog ’n moontlikheid is onderlinge afguns tussen sibbe waar die uniekheid van elke kind se talente nie erkenning gekry het nie. Miskenning van ’n kind se talent is ‘n teelaarde vir ’n volwassene om aan sy of haar talent en begaafdheid as ondergeskik te dink. Dit kan ook tot die sindroom aanleiding gee.”
Hermann noem ook ’n verband tussen obsessief-kompulsiewe gedrag en volwassenes wat besonder goed presteer.
“Die vrees om nie in beheer te wees nie, is ’n voorbeeld van die obsessie en dan die kompulsie om in beheer te wees. Ongelukkig is dit so dat verskeie mense met obsessief-kompulsiewe gedragstrekke nooit voel dat hulle goed genoeg is nie. Die realiteit is dat die persoon wel suksesvol is.
“Niemand plaas groter druk op ons as onsself nie. Dit is soms makliker om aan ons eie vaardighede en vermoë te twyfel as daar nie ’n gesonde verwysingsraamwerk voorkom nie.”
Wanneer is dit ‘n probleem?
Hermann beskou dit as normaal dat mense ten opsigte van hul ware prestasie hulself bevraagteken. “As hierdie bevraagtekening die punt bereik waar ’n minderwaardigheidskompleks en of selfs gemoedsteurnis soos depressie en angs voorkom, is dit nodig om vir terapie te gaan.
“Ek glo die onmiddellike en ernstige simptome soos depressie moet eers onder beheer gekry word voor die oorsaak daarvan bepaal word.
“Iemand wat erg depressief is, het ’n ingeperkte vermoë om insig te te toon oor wat tot sy twyfel lei. Imposter-sindroom is die gevolg van daardie twyfel. Dit gebeur soms dat ‘n volwassene vir jare met daardie vrese saamleef en uiteindelik met ernstige sielkundige gedrag presenteer wat psigosomatiese siektes, gemoedsteurnisse, angssteurnisse, fobies en veral sosiale fobies kan insluit.
“Ongelukkig is daar mense wat uiteindelik so in hul vermoëns twyfel dat hulle hul poste verlaat.”
Hermann beveel sielkundige terapie aan om die oorsaak te bepaal en die persoon te kry om weer selfwaarde te bereik. Die ideaal is om ’n pasiënt te kry om ’n gesonde lewensbalans te kry.
“Werk is slegs ’n deel van die lewe en alle mense is meer as net hul werk, werksukses of nederlaag.”
Beulah se storie
Hermann sê hy sien vir Beulah gereeld vir terapie en is meer as bewus van haar intelligensie en haar wroeging met haar werksituasie. Haar kinderjare het tot die probleem bygedra, vertel hy.
“Sy is as kind gekritiseer en dit het daartoe gelei dat sy haar selfwaarde bevraagteken. Sy is ’n goeie voorbeeld van iemand wat haar professie kan verlaat om net weer dieselfde situasie by ’n ander werk te ervaar.
“Die belangrikste vir haar is om te onderskei tussen dinge wat sy kan doen as deel van haar groot omvang van talente en om haar te bepaal by dit waarmee sy eintlik uitsonderlik goed is.”
Dr Hermann Liebenberg: www.drliebenberg.com