Willie Burger kyk na Eben Venter se jongste roman, Groen soos die hemel daarbo
Seks raak omtrent alles in ons lewens. Sitkoms maak grappies oor seks. Dramas maak erns daarmee. Advertensies gebruik seks om aandag op produkte te vestig. Die woord porn is een van die mees gebruikte soekwoorde op Google. Seks is saam met geweld en kru taal die sake waaroor waarskuwings by TVprogramme geplaas word. In byna elke storie speel mense se nuuskierigheid oor seks, hul skaamte oor seks, hul onsekerheid oor seks, die ekstatiese genot van seks of die teleurstelling daarmee, skuldgevoelens oor seks of seksuele teistering ’n rol.
Wat presies die impak van seksuele ervarings op mense se lewens is, hoedat dit met godsdienstige taboes of samelewingsnorme skakel, word in tallose wetenskaplike en populêre boeke, tydskrifte, TV-programme en webwerwe bespreek. Maar ten spyte van die alomteenwoordige seks op openlike of verdoeselde maniere, bly iets van seksualiteit steeds ontglippend, onvaspenbaar. Die titel van Eben Venter se jongste roman, Groen soos die hemel daarbo, suggereer iets van hierdie onbegrypbaarheid van seksualiteit.
Die titel is ’n direkte vertaling van die Xhosawoord vir blou: luhlaza okwesibhakabhaka. ’n Xhosasprekende man verduidelik aan die hoofkarakter, Simon, dat daar nie ’n woord in Xhosa vir blou is nie, omdat blou iets is wat ’n mens nie kan sê hoe dit is nie: “Dis altyd daarbo bokant ons. Miskien dink jy jy kan daaraan vat, maar jy kan nie.” Simon lê dadelik die verband met seks – hy kan en kan nie sê hoe en wat dit presies is nie. Seks, begeerte, intimiteit en die implikasies daarvan vir identiteit is belangrik deur Venter se hele oeuvre – aspekte van die kompleksiteit daarvan word reeds aangesny in Foxtrot van die vleiseters en Ek stamel, ek sterwe, ook in later romans soos Begeerte en Wolf, wolf, maar in Groen soos die hemel daarbo is dit onverbloem die sentrale fokus.
’n Opsomming van die verhaal mag soos die saamgooi van clichés uit Venter se eie, maar ook uit talle ander Suid-Afrikaanse skrywers se werk voorkom: Simon is ’n plattelandse seun uit die Oos-Kaap. Hy vestig in Australië om so ver as moontlik aan die patriargale apartheidsagtergrond te ontsnap. Hy knoop ’n reeks seksuele ervarings met mans aan, oral waar hy gaan: in Bali, Tokio, Istanbul en Kaapstad. Hy ontmoet mans deur ’n selfoon-toep, op sekspartytjies, op ’n afspraak of in die verbygaan op straat. Hy het ’n onblusbare dors na meer seksuele ervarings.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Hermann Giliomee
Simon beskryf sy seksuele ervarings aan sy sielkundige. Dikwels gaan die beskrywings gepaard met vertellings oor herinneringe aan sy kinderdae op die plaas, wat onwillekeurig en teen sy sin by hom opkom. Soos in so baie Suid-Afrikaanse fiksie keer Simon ook terug na die land om sy sterwende ma te besoek, om ook op ’n manier te probeer vrede maak met ’n verlede en met mense wat hy aan die een kant verafsku, maar aan wie hy tog ook met liefde gebind is. Soos dikwels in Eben Venter se romans lyk die verhaal dus na ’n opstapeling van clichés: Die gay man wat met sy eie seksualiteit sukkel en die onderdrukkende Afrikaner-patriargie, sy eie twyfel, sy afsku in apartheid waarvan hy wegvlug en sy ambivalensie teenoor sy sterwende moeder, wat hy alles in lang biegsessies met ’n sielkundige in Australië bespreek, tik omtrent al die blokkies van geykte stories af.
Maar … Hierdie is ’n Eben Venter-roman en daarom moet ’n mens nie te haastig oordeel nie. Venter doen veel meer met hierdie bekende gegewe as waaraan ’n mens naastenby in ’n kort bespreking kan laat reg geskied. Eerstens is dit meesleurend vertel: die beskrywings van die uiteenlopende ruimtes soos ’n Japannese vismark, strate in Bali, ’n stoombad in Istanbul, ’n kliniese woonplek in Nederland, ’n voorstedelike huis in Australië of die hongerte in die heuwels van die Wildekus, word met ’n fyn oog, oor en neus vertel. Die sensuele beskrywings van die omgewings en geregte trek ’n mens in ’n wêreld van sensoriese belewenis in.
Die seks word nooit op ’n manier beskryf wat ’n mens laat wonder waar jy die boek vir die Bad Sex Award kan benoem nie, omdat die fokus eerder op ervarings en gedagtes as op handelinge val. Tweedens is die filosofiese onderbou sterk genoeg om ’n diep verkenning van menslike seksualiteit moontlik te maak. Die roman gaan oor ’n integrering van ’n mens se verlede met jou hede in ’n voortgaande proses. Dit is ’n ondersoek van seks vir suiwer genot, vir opwinding, vir troos, vir intimiteit en ook liefde. Uiteindelik blyk dit dat seks ’n mens heeltemal kan verander, dat dit ’n mens op ’n sekere vlak van intimiteit met ’n ander kan bring waar die grens tussen self en ander opgehef raak en wat jou aspekte van ’n ander en van jouself laat ontdek, nie omdat dit altyd reeds iewers bestaan het nie, maar daar tot stand kom. Só ’n ervaring kan ’n mens help om uiteenlopende aspekte van jouself te integreer, jou selfvertroue gee en van ’n obsessie met seks genees.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.