Die Palau de la Musica Catalana is die enigste konsertsaal in Europa wat bedags verlig word met behulp van natuurlike lig wat deur ’n plafon van gebrandskilderde glas val
Deur JOHAN MYBURG
Hoewel Antoni Gaudi seker die mees gevierde argitek is wat Barcelona opgelewer het en sy eiesoortige stempel op Katalaanse Modernisme afgedruk het, is daar ‘n magdom geboue in dié Spaanse stad wat die geesdrif van die Art Nouveau – of dan Modernisme soos daar in Spaans na verwys word – weerspieël.
In die hart van Barcelona, knus tussen ander standaard-seweverdiepinggeboue, staan die Palau de la Música Catalana, die stad se konsertsaal wat deur Lluís Domènech i Montaner ontwerp is en in 1908 in gebruik geneem is – een van die mooiste voorbeelde van Katalaanse Art Nouveau.
Soos elders (vergelyk “Kunstenaarsoog” hier neffens) is dit in dié geval ook die kurwe wat voorrang bo die reguit lyn geniet, dinamiese eerder as statiese vorms wat benadruk word en ‘n ruim gebruik van verwysings na plant- en blommotiewe.
Op straatvlak, by die ingang na die Palau, is dit die massiewe kolomme in rooi steen, met blommende mosaïek versier, wat ‘n mens opval. Die fasade eggo Spaanse sowel as Arabiese argitektuur.
LEES OOK: Klassieke klanke: La Fenice
Die konsertsaal, met sitplek vir 2 200, is die enigste een in Europa wat bedags verlig word met behulp van natuurlike lig wat deur ‘n plafon van gebrandskilderde glas val. Ontwerp deur Antoni Rigalt verbeeld dié omgekeerde koepel die blou lug met die stralende son in die middel daarvan.
Die boog oor die verhoog (wat tradisioneel die proscenium sou wees) is ‘n oordadige verwysing na Rococo-argitektuur met ‘n uitbeelding uit Wagner se Die Walküre aan die regterkant en daaronder, tussen twee Doriese kolomme, ‘n borsbeeld van Beethoven.
Eie aan Art Nouveau of Katalaanse Modernisme is simmetrie nie ‘n allesoorheersende maatstaf nie. Aan die linkerkant van die verhoog, onder ‘n boom, is ‘n beeld van Anselm Clavé, die man wat onthou word vir die herlewing wat hy in Katalaanse volksliedere bewerkstellig het.
Reg in die middel is die orrelpype wel simmetries aangebring.
Die lys kunstenaars wat al in die Palau de la Musica opgetree het, spreek boekdele oor die aansien van dié konsertsaal in die musieklewe in Europa: Andrés Segovia (kitaar); Pablo Casals (tjello); Alfred Cortot (klavier); Albert Schweitzer (orrel); Enrique Granados (klavier); Wilhelm Backhaus, Wanda Landowska, Arthur Rubinstein en Claudio Arrau (klavier); Yehudi Menuhin (viool), Mstislav Rostropovich (tjello) en sangers soos Victoria de los Angeles, Montserrat Caballé, José Carreras, Elisabeth Schwarzkopf en Barbara Hendricks.