Die wenners van die FNB Sauvignon Blanc Top Tien 2017 is onlangs tydens ’n middagete by die Franschhoek Cellar aangekondig
Deur Maryke Roberts
Foto’s Maryke Roberts
Die kompetisie word sedert 2007 deur die Sauvignon Blanc Belangegroep van Suid-Afrika (SBIG) aangebied en geborg deur FNB Business. Dit het gegroei tot die land se voorste platform vir Sauvignon Blanc produsente geword.
Gaste kon met aankoms die 20 finaliste se wyne proe, voor daar vir middagete aangesit is en die wenners aangewys is. Die seremoniemeester vir die dag, Peter Mitchell, het die trant met sy kwinkslae en grappies baie lig gehou, om die senuwees onder bedwang te hou.
Die wyne wat vanjaar se gesogte Top 10 lys gehaal het is: Boschendal De Werf Sauvignon Blanc 2016 (wynmaker Lizelle Gerber); Diemersdal Winter Ferment Sauvignon Blanc 2017 (Mari Branders); Groot Phesantekraal Sauvignon Blanc 2017 (Etienne Louw); Highlands Road Sauvignon Blanc 2015 (Vanessa Simkiss); Kleine Zalze Family Reserve Sauvignon Blanc 2017 (RJ Botha); Mulderbosch 1000 Miles Vineyards Sauvignon Blanc (Wooded) 2015 (Sean Griffiths); South Hill Vineyards Sauvignon Blanc 2016 (Sean Skibbe); Stellenbosch Vineyards Sauvignon Blanc 2017 (Bernard Claassen); Strandveld Pofadderbosch Single Vineyard Sauvignon Blanc 2016 (Conrad Vlok) en Vrede en Lust Artisan Range Blanc Fumé 2016 (Karlin Nel).
Die 2017 Sauvignon Blanc Top 10 wenners verteenwoordig ’n goeie verskeidenheid van die vooraanstaande Sauvignon Blanc produserende areas. Elgin is bo-aan die lys met drie verteenwoordigers. Twee wyne van die 105 oesjaar en vier elk van die 2016 en 2017 oesjare het die Top 10 lys gehaal. ’n Vooraanstaande beoordelaarspaneel, wat verskeie sektore in die wynbedryf verteenwoordig, het die moeilike taak gehad om 190 inskrywings deur 120 deelnemers te evalueer en om die beste Sauvignon Blanc wyne van Suid-Afrika aan te wys.
LEES OOK: Bartinney Wynlandgoed se nuwe wyne
Thys Louw, ondervoorsitter van die SBIG, het in sy toespraak gesê Sauvignon Blanc is vir hom ’n natuurlike keuse. “Ek is getroud met Sauvignon Blanc en my vrou sal dit bevestig. Hy het vertel dat die wyn in verpakte vorm waarvan die meeste uit Suid-Afrika uitgevoer word, Sauvignon Blanc is en in die premium wynkategorie is 13,5 miljoen liter Sauvignon Blanc, meer as drie maal meer as sy naaste mededinger.
“Vandag is hier eintlik net een wenner, en dis Sauvignon Blanc,” het hy ter afsluiting gesê. Thys is die wynmaker by Diemersdal, ’n wynplaas in Durbanville wat al vir ses generasies in die Louws se besit en bestuur is.
“Ons wens met trots die wynprodusente wat hierdie gesogte lys gehaal het, geluk met die besondere prestasie. Hierdie kompetisie het oor die jare gegroei tot een van die rigtinggewende platforms vir wynprodusente en om hul innovasie-vermoë ten toon te stel,” het Stephan Claassen, Provinsiale Hoof van FNB Business se Wes- en Oos-Kaap streke, in sy toespraak gesê.
Hy het bygevoeg dat FNB glo hul vennootskap met die Sauvignon Blanc Belangegroep ’n goeie geleentheid is om die wêreldwye statuur van Suid-Afrikaanse wyne verder te verbeter.
Die Top 10 beoordelaarspaneel het onder leiding van die bekende wynmaker en beoordelaar, Neil Ellis, gestaan.