‘Ek het ’n voorliefde veral vir die komiese operas in die bel canto-repertoire’
Deur JOHAN MYBURG
Levy Strauss Sekgapane, die 26-jarige Suid-Afrikaanse tenoor van Kroonstad, het einde Julie nóg ‘n veer in sy sangershoed gesteek toe hy die Operalia-prys in die mansafdeling ingeoes het. Dié jongste toekenning volg op die eerste prys in die 15de Montserrat Caballékompetisie in 2015, die eerste prys in die 34ste internasionale Hans Gabor-kompetisie in 2015, die ATKV Muziqanto-kompetisie in 2014 en die Mimi Coertse-kompetisie en die Schock-stigting se kompetisie in 2013.
Die 25ste Operalia-kompetisie is vanjaar van 24 tot 29 Julie in Kazakstan aangebied en in die kategorie vir sangeresse het die Roemeense sopraan Adela Zaharia die kroon gespan. Dié kompetisie word elke jaar in ’n ander stad aangebied en kry honderde inskrywings waaruit 40 gekies word om voor ‘n beoordelaarspaneel op te tree wat uit kenners wêreldwyd saamgestel is. Die Spaanse tenoor Placido Domingo is die mentor van die kompetisie.
Domingo tree nie as beoordelaar op nie, maar bied deurgaans artistieke en loopbaanleiding aan die deelnemers. Domingo het die kompetisie in 1993 begin met die oogmerk om nuwe talent te ontdek en blootstelling aan hulle te gee. Sangers kan ook gekies word om “jong kunstenaar”-programme by te woon wat Domingo in die VSA en in Spanje aanbied. Vanjaar het sangers tussen die ouderdom van 18 en 32 uit 17 lande meegeding. Vorige wenners sluit in Pretty Yende, Joyce DiDonato, Rolando Villazón, Erwin Schrott, Nina Stemme, José Cura, John Osborn en Susanna Phillips.
LEES OOK: Klassieke klanke: Hendrik Hofmeyr
Dit was met “Povero Ernesto”, die melancholiese aria uit Gaetano Donizetti se Don Pasquale, waarmee Sekgapane die Operalia-beoordelaars beïndruk en ’n aks meer as R400 000 verdien het. Dié aria het hy in die operahuis in Astana, die hoofstad van Kazakstan, gesing saam met die Astana-opera-orkes onder leiding van Domingo. Bel canto pas hom soos ’n handskoen, sê hy. “Ek het ’n voorliefde veral vir die komiese operas in die bel canto-repertoire. Dis ongelooflike mooi musiek en ek geniet boonop die hoë note.” Ná sy skoolopleiding het Sekgapane aan die Universiteit van Kaapstad se musiekskool onder leiding van Hanna van Niekerk sang gestudeer.
Daarbenewens het hy ook meesterklasse in vroeë musiek en Barok-musiek bygewoon wat aangebied is deur die Suid-Afrikaanse sanger Kobie van Rensburg, wat deesdae in Duitsland woon. Sekgapane het hom kort ná voltooiing van sy studie in Kaapstad in die buiteland gaan vestig waar hy tans lid van die jeugensemble van Dresden se Semperoper is. Teaters waar hy reeds opgetree het, sluit in die Aalto-Musiktheater in Essen, die Deutsche Oper in Berlyn en kort ná die kompetisie in Kazakstan het hy op die Operalia se Paradekonsert in Kopenhagen ‘n gehoor vermaak met “Ah! Mes amis, quel jour de fête!” uit La fille du régiment, ’n komiese opera van Donizetti. In Kopenhagen het hy ook in die Koninklike Deense Opera opgetree. Verlede maand het Sekgapane weer die rol van Conte di Libenskof in Gioachino Rossini se Il viaggio a Reims vertolk, maar dié keer in sy debuut in Barcelona se Liceu. Tans vertolk hy die rol van graaf Almaviva in Rossini se Il barbiere di Siviglia in Oslo. Dié rol sing hy later ook in Parys en nog later vertolk hy die rol van Nemorino in Donizetti se Elisir d’amore in Wiesbaden.