Morné Vrey, wynmaker by Delaire Graff, is sedert Desember 2016 ‘n lid van die Kaapse Wynmakersgilde
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
As keldermeester by Delaire Graff vir die afgelope agt jaar, is hy nou betrokke by alle aspekte van die wynbedryf, insluitend die beoordeling van wyne as lid van verskeie proepanele en studiegroepe.
Hy het in 2007 by die landgoed as assistent-wynmaker begin en is in 2009 tot hoofwynmaker bevorder.
Morné het reeds drie Platter 5 sterre vir die landgoed se Botmaskop verower en drie vir sy Delaire Laurence Graff Reserve, sowel as pryse van Old Mutual, Veritas, Decanter en Concours Mondial vir verskeie ander wyne. In 2015 is hy as Jong Wynmaker van die Jaar deur die Britse wynkommentator, Tim Atkin, aangewys.
Morné se vrou, Steffi, is ‘n uitvoerbestuurder, ook vir ‘n wynplaas. Hulle het twee kinders.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Ek het op Calitzdorp grootgeword en gedurende skoolvakansies keldertoere en proeë by Boplaas Familiewingerde aangebied.
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer, wat jy nie verwag het nie?
Sodra jy ‘n bottel toemaak en verkoop is jy oop vir kritiek. Leer gou om jou vel dikker te maak.
Wat dink jy is die belangrikste eienskappe waaroor ’n wynmaker moet beskik?
’n Gevoel vir die oes en hoe om dit in die regte rigting te neem.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Ek hou altyd die eindverbruikers in gedagte. Dit is hulle wat die wyn gaan koop en geniet. Ek neem altyd net voor bottelering my span uit en ons geniet ’n bottel van dié wyn saam met ete. Tydens die ete kyk ons of ons nog iets moet doen om die wyn te verbeter vir diegene vir wie die wyn bedoel was. Ek sal dus sê ek is versigtig, met al my kaarte op die kwaliteit van die druiwe.
Hoe dink jy kan ‘n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Aanhoudende bewusmaking dat die wynplaas wel bestaan.
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Wolmerino-teler en boer in die Groot Karoo.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die geselligheid daarvan. Boonop is die natuurskoon oral in die wêreld waar ek al was waar wyn gemaak word, besonder mooi.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Sjoe, dit is om te vra watter van jou kinders is jou gunsteling. Ek hou van wyn, soms is daar wyne wat net nie so lekker is nie, maar dan verander ons na ’n ander bottel.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Ek drink graag pinot noir, en dink jy moet die hand hê om dit te maak. Sal dit graag eendag wil probeer, maar intussen hou ek dit vir die manne/vroue wat kan.
Watter kultivar kry te min aandag in SA en sal jy graag wil sien ontluik in die toekoms?
Sauvignon blanc/semillon-versnitte – tans word dit slegs vir ’n klein groepie mense gemaak en kry dit nie die blootstelling wat dit verdien nie. Normaalweg het hierdie styl ’n hoër pryspunt, maar dit is nie ’n rede om afgeskrik te word deur een van die style wat Suid-Afrika die beste kan doen nie.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
’n Vaatjieproe van die 2005-oesjaar Chateau Ausone cabernet franc.
LEES OOK: Wynmaker: Danie Marais
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2017?
Suid-Afrika is tans wêreldwyd op almal se lippe vir hoe goed ons wyne is en geraak het. Dit is baie belangrik dat ons meer sulke wyne maak, maar terselfdertyd benodig ons ook genoeg volume van hierdie wyne om die boodskap beter en sterker te kan versprei.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Ons word amper daagliks met draaiballe gegooi, en leer baie gou hoe om dit te hanteer.
Watter wyn sal jy aanbeveel met soesji en wat met speseryagtige kos?
‘n Ligte rosé werk altyd goed met soesji, en ’n chenin blanc vir speseryagtige kos.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker – eksperimenteer meer, betaal duurder vir wyne, ens?
Dit is belangrik dat die persoon wat wyn drink en geniet, ’n goeie basis het om mee te begin. Die oomblik wanneer dit gebeur, volg die res baie maklik. Beter wyne word gedrink en gou kom jy agter dat jy by ’n sekere pryspunt by jou gunsteling uitkom.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Dat ons baie naby aan die natuur werk en dat dieselfde wyn elke jaar anders sal wees as gevolg van wat die natuur daardie jaar vir ons gegee het.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Sy is die baas.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Ek het vanjaar die eerste keer gehoor van die “groen droogte”. Ons is tans in die ergste droogte in jare, maar nog steeds lyk alles redelik groen.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Die oorlede Serge Hochar van Chateau Mussar in Libanon. Ek was al van baie vroeg in my loopbaan gefassineer deur sy wyne, maar hy is in 2014 oorlede.
Watter wyn-bestemming oorsee het jy al besoek, wat jou baie beïndruk het?
Ek was ’n paar jaar terug in die Jura-streek in Frankryk. Dit is ’n fantastiese gebied met goeie wyne en die baie bekende comté-kaas kom ook daarvandaan.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?
Ons het nou 10 jaar agter die rug en al hoe meer fokus op ons wingerde en die streke waarvandaan ons ons druiwe ontvang. Dit word mikro-bestuur om op die ou einde ’n beter produk bekend te stel.