Woolworths het hande geneem met ses van die land se bekendste wynmakers, om die eksklusiewe Signature Series bekend te stel
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Die reeks het drie witwyne en drie rooiwyne – ‘n Sauvignon blanc, Chenin blanc, Chardonnay, Shiraz, Cabernet Sauvignon en ‘n Merlot.
Wynkenner en Kaapse Wynmeester, Allan Mullins, wat die afgelope 27 jaar vir Woolworths wyne versny en kies, se kennis van die wynbedryf én van die Woolworths-wynkliënte, het handig te pas gekom met hierdie sameweringsprojek. Hy het aan gaste by die bekendstelling by DeMorgenzon buite Stellenbosch gesê hy het net die top name in die wynbedryf genader om saam met hom aan hierdie opwindende projek te werk. “Ek is geweldig trots op die ses wyne wat ons in die reeks kon insluit,” het hy vertel.
Al ses wynmakers was daar om vrae oor die wingerde, wynmaakproses en verouderingspotensiaal van hul wyne te gesels.
Die reeks bestaan uit: Signature Series Sauvignon blanc 2017 deur Duncan Savage (Cape Point Vineyards); Signature Series Chenin Blanc 2016 deur Alistair Rimmer (Klein Zalze); Signature Series Chardonnay 2016 deur Danie De Wet (De Wetshof); Signature Series Shiraz 2015 deur Carl van der Merwe (De Morgenzon); Signature Series Cabernet Sauvignon 2015 deur Gyles Webb (Thelema) en Signature Series Merlot 2015 deur Frans Smit (Spier).
Duncan Savage deel sy liefde vir wyn en branderplankry met Allan. Sy Sauvignon blanc het die koel seebriesies van die Atlantiese Oseaan op die neus en is ideaal vir die somer saam met ‘n visbraai of saam met peuselhappies met sononder. Duncan het ook by die geleentheid ‘n spesiale branderplank aan Allan oorhandig.
LEES OOK: Woolworths jogurt: nou nog groter keuse
Die Chenin blanc deur Alistair Rimmer van Kleine Zalze, tesame met sy kollega, wynmaker RJ Botha, kom van vyf unieke wingerdblokke en is vir agt maande in groot eikehoutvate verouder. Dis die ideale pasmaat vir risotto, garnaalkerrie of gebraaide kreef.
Danie de Wet van De Wetshof is Allan se Chardonnay mentor sedert hul eerste versnit in 1990. Hierdie Chardonnay was 12 maande in eikehoutvate en is die ideale pasmaat vir tuna met sesamsaad.
Carl van der Merwe van De Morgenzon se elegante Shiraz, is vir 12 maande in klein eikehoutvate verouder en toe nog vir ‘n verdere agt maande in groot vate. Dis perfek saam met ryk beesstert, bredies en lamskenkel-disse. Dis ’n vrugtige, fluweelsagte wyn.
Signature Series Cabernet Sauvignon 2015 by Gyles Webb van Thelema se Cabernet Sauvignon is die pasmaat van jou gunsteling biefstuk en het geroosterde eikehout op die neus.
Signature Series Merlot 2015 by Frans Smit van Spier se Merlot is robynrooi en 50% is vir 18 maande in nuwe Franse eikehoutvate verouder. Daar is skeutjies ment en donkersjokolade op die tong en dit gaan perfek by Karoolam met mentsous en geroosterde aartappels.
Die wyne haal al die kopkrap uit wyn-aankope en die elegante verpakking maak dit ook ideale geskenke. Elke bottel se etiket dra die wynmaker se handtekening. Al die witwyne kos R129,99 en die rooiwyne R149.99.