In die Vrouekeur van 29 September gesels ons met Helene de Kock. Hier is nog inligting
Helene de Kock is op Sabie gebore, maar het aan die Oos-Rand as pastoriedogter grootgeword. Sy was hoofmeisie van Dr. E.G. Jansen Hoërskool, het aan die Universiteite van Pretoria en Noordwes gestudeer en in 2014 ’n PhD in Skryfkuns aan die Noordwes Universiteit onder leiding van professors Franci Greyling en Hans du Plessis verwerf. Die onderwerp is: “Die skep van ruimtelike dinamika in ’n roman”. Helene is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Ná matriek gaan Helene na die Universiteit van Pretoria, waar sy ’n BA-graad met Engels en Duits as hoofvakke asook ’n onderwysdiploma behaal. By Tukkies dien sy vir twee jaar op die redaksie van die studentekoerant, Die Perdeby, en is later waarnemende redakteur van Vrystaat, ’n streekskoerant in die Oos-Vrystaat. Sy neem sanglesse aan die Konservatorium en ontvang les by Xander Haagen, Nellie du Toit en later Rina Hugo en het dikwels as soliste opgetree.
Helene skryf graag verhoudingsromans aangesien die liefde nooit in ’n vakuum gedy nie: Ander mense is altyd betrokke. Hiermee bedoel sy ouers, sibbe, vriende en familie. Onderlinge verhoudings tussen hierdie groepe is belangrik in enige liefdesverhaal. Helene se skryfwerk dek ’n wye verskeidenheid genres. Sy doen steeds soms joernalistieke werk en skryf resensies en wetenskaplike artikels vir Literator. Sy skryf graag oor die liefde, maar lê ook klem op die werklikheid van die lewe en die eise wat die lewe aan verhoudings stel.
Oor die genre van goeie gewilde romans laat sy haar in 1991 soos volg uit: “Ontspanningsromans moet goedgeskrewe, egte verhale wees wat reg aan dié genre laat geskied. ’n Mens boet nie noodwendig aan die estetiese in as jy jou boek op die kommersiële mark rig nie.”