’n Nuwe internasionale sirkusproduksie, Enchanted, het verlede week in Groenpunt, Kaapstad geopen
Deur Maryke Roberts
Foto’s verskaf
Sebastian Cassie is die vervaardiger en regisseur van die vertoning wat in ’n pragtige ou spieëltent wat van België ingevoer is, opgevoer word.
Die seremoniemeester is die Suid-Afrikaanse komediant, Mel Jones en die nar, Piky Pokus van Argentinië, vermaak tussen die verskillende vertonings deur die gehoor met sy mallighede.
Die vertoning is uiteenlopend, van ’n mesgooier, Andrei Gomunov en sy assistent, Daria Sheremet van Rusland, die wêreldbekende Orissa Kelly, wat nie alleen fabelagtige toertjies as gimnas met meters symateriaal uit die tent se dak vermag nie, maar ook ’n pyl en boog met haar voete skiet. Daar is ook Tom McKinnon wat met hoelahoeps en reuse swaaie die asem wegslaan en een van die hoogtepunte is die seepborrels deur Thomas Favaro.
Die vertoning het ook optredes deur die duo AquaTerra, Leda Wight en Jenny Le Roux, wie se soepel lywe op allerhande maniere kan buig en knak,’n laservertoning en die musiek word verskaf deur twee sangers, Noa Milan en Ashtevhaan Mintoor.
Die Enchanted-vertoning word in sirkusstyl aangebied en tussendeur kan gaste kos en drankies geniet.
Enchanted is nog tot middel Oktober in die Kaap. Bespreek by 074 422 2888 of besoek www.EnchantedCirque.com