Willie Burger kyk na ’n paar oulike kinderboeke en ’n boek wat ook ’n fliek geword het
Op 22 September is die fliek Vaselinetjie in teaters vrygestel. Die fliek is op Anoeschka von Meck se roman uit 2004 gegrond. Vaselinetjie is pas deur Tafelberg heruitgegee. Op die voorblad staan daar dat 100 000 eksemplare reeds verkoop is en dat die roman nou ook ’n rolprent is. Dit is dus duidelik dat hierdie heruitgawe beplan is om nuwe lesers na aanleiding van die fliek te lok. Die roman is destyds bekroon met die Rapport/Jan Rabie-prys, die MER-prys vir jeugliteratuuur asook met ’n M-Net-prys en ’n ATKV-Woordveertjie en is ook reeds suksesvol vir die verhoog verwerk.
Die sentrale karakter, Vaselinetjie (eintlik Helena Bosman) word by haar oupa en ouma in die Noord-Kaap groot tot sy tien jaar oud is. Hulle noem haar Vaselinetjie omdat sy voortdurend vir Vaseline vra omdat haar vel skurf is. Sy word egter deur die Welsyn onder haar grootouers se sorg weggeneem omdat hulle bruin en sy wit is en sy word na ’n kinderhuis gestuur. In ’n sekere sin sluit die roman aan by die lang tradisie van “koshuisromans”. Die “koshuis” is in hierdie geval nie ’n ruimte waar bevoorregte kinders allerhande “onskuldige” avonture beleef nie, maar bied ’n blik op ’n eietydse weeshuiswêreld.
Sake wat sentraal in talle jeugboeke staan, soos dwelms, prostitusie, drank, seksuele verhoudings, seksuele identiteit en (bende-) geweld word oortuigend aangebied, maar anders as in baie jeugromans word nie een van hierdie sake die hooffokus nie. Hulle vorm eerder die agtergrond van ’n individu se geleidelike ontwikkeling. Soms wil mense die fliek sien nadat hulle die boek gelees het. Ander kere wil mense graag weer die boek lees nadat hulle die fliek gesien het. Hierdie heruitgawe is gerig op laasgenoemde mark.
As jy nog nie Vaselinetjie gelees het nie of as jou kinders dit nog nie gelees het nie, is dit nou die kans om dit in die hande te kry. Dit is ’n roerende en lewensgetroue boek wat ’n blik bied op ’n wêreld waaroor daar nie dikwels geskryf word nie. Deel van die sukses van die boek is waarskynlik die Christelike inslag waarby baie lesers aanklank vind, maar dit bly ’n roerende leeservaring vir enigeen.
LEES OOK: Kies ‘n boek: kinderboeke
Sommige lesers sal nog die Storiemanplate of -kassette uit die 1980’s onthou waarna mens kon luister terwyl jy die storie in die boeke kon volg en na die prente kon kyk. Leon Rousseau het die suksesvolle Storyteller-reeks uit Engels vertaal, maar ook aangevul met talle verhale uit die Suid- Afrikaanse geskiedenis en Suid-Afrikaanse sprokies en legendes. Een van die gewilde karakters uit dié reeks is Timmertak, wat saam met sy Ouma Kwas in Wikkelwoud woon. Vier nuwe Timmertakverhale is deur die oorspronklike outeur, Peet Ellison, geskryf en geïllustreer en in sprankelende Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys. Die vier verhale is ook op ’n CD agterin die boek met Susanne Beyers as stemkunstenaar.
Protea Boekhuis het oor die afgelope jare ’n ongelooflike bydrae gemaak om goeie kinderboeke met kleurvolle illustrasies, in Afrikaans beskikbaar te maak. Van die gewildste en beste prenteboeke word uit Engels en Duits vertaal. Hierdie boeke is ideaal vir voorlees of vir kinders wat pas begin lees, want die illustrasies is groot, kleurvol en treffend, terwyl die teks daarby min genoeg is en eenvoudig genoeg vir jong lesers, dog prikkelend en interessant. As dit waar is dat kinders wat reeds in hul eerste tien jaar lesers word ook vir die res van hulle lewens lesers bly (en daar is navorsing wat daarop dui!), dan het Protea Boekhuis met die talle kinderboeke wat hulle in Afrikaans uitgee, reeds ontsettend baie Afrikaanse lesers help kweek.
Drie van hul jongste publiksies is Paul en Vlekkie deur Claire Freedman en Kate Hindley. Dit is die verhaal van Paul wat ’n verlore hondjie teëkom. Hy is dadelik bly dat hy uiteindelik in die nuwe stad ’n vriend gemaak het, maar dan besef hy dat hy die vriend weer gaan verloor, want die eienaar soek waarskynlik na die verlore hondjie.
Die bekroonde Switserse kinderboekskrywer Max Bolliger en illustreerder Jurg Obrist se boek Clemens die kat is uit Duits vertaal. Die verhaal gaan oor Clemens se obsessie om gewild te wees. Uiteindelik word dit duidelik dat iemand wat graag gewild wil wees, maklik deur ander gemanipuleer kan word.
Julia Donaldson en Axel Scheffler se boek oor die Goorgomgaai het my kinders geboei en vir ’n baie lang tyd vermaak. Die Afrikaanse vertaling het, soos die titel, lekker op die tong geval en dit was ’n wonderlike boek om voor te lees. Ek moes dit so dikwels voorlees dat ek nou nog, seker omtrent vyftien jaar later, die boek byna uit my kop kan opsê. Hul nuwe boek, Die voëlverskrikkertroue, se illustrasies is sommer dadelik herkenbaar as die werk van Scheffler en vertel net so ’n lekker storie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.