Integriteit is ’n eienskap wat ek deesdae al minder rondom my sien – dit wemel van die “ekke” en “solank ek nie uitgevang word nie”.
So lees ek op ’n webwerf kenmerke van mense met integriteit raak en omdat integriteit vir my die belangrikste eienskap van menswees is, het ek gaan dink oor wat ek as die kenmerke van integriteit beskou.
Mense met integriteit …
- … is eerlik.
- … is nederig, maar nie ruggraatloos nie.
- … het empatie met mense.
- … misbruik nie hul mag of ander mense nie.
- … gee erkenning aan mense.
- … ploeg nie met ’n ander se kalwers nie.
- … weet hulle het nie al die antwoorde nie en daar is nie net een antwoord nie.
- … kan hulself in ander se posisie probeer plaas.
- … is ingestel op ander mense se gemoedstoestand.
- … erken as hulle ’n fout gemaak het, verkeerd was of iemand sleg behandel het.
- … vra eerste om verskoning.
- … verskil van ander sonder om gemeen te raak.
- … gee maklik en help mense sonder om iets terug te verwag.
- … dink voor hulle praat.
- … weet daar is ’n fyn lyn tussen ’n mening hê (en dit gee) en veroordeling.
- … behandel mense, ongeag status, titel, invloed, finansiële vermoëns, of die gebrek daaraan, dieselfde.
- … neem ander mense in ag.
- … respekteer ander mense se tyd.
- … is gaaf met mense.
- … gee mense die voordeel van die twyfel.
- … is eg.
- … buit nie mense uit nie.
- … poog om daagliks ’n verskil in die wêreld en in mense se lewens te maak, ongeag hoe klein ook al.
- … doen hul werk na die beste van hul vermoë.
- … dink nie die lewe skuld hulle iets nie.
- … doen geen mens doelbewus aan nie.
- … maak nie leë beloftes nie.
- … raak nie aggressief, wreed, gemeen of kry stilstuipe as iemand hulle kwaad maak nie.
- … dink vir hulself.
- … praat nie net nie, hulle doen.
- … is nie agteraf nie.
- … is betroubaar.
- … besef geld is nie als in die lewe nie.
- … het die vermoë om te luister aangeleer.
- … leer elke dag iets.
- … mishandel nie diere nie.
- … doen dikwels introspeksie.
- … dink aan die gevolge van hul dade.
- … is verantwoordelike wêreldburgers.
- … reis deur die lewe met ’n morele kompas wat deur nommers 1 tot 39 bepaal word. Die vraag is, hoe reis ons (ek inkluis)?
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.