“Ons het meer opera en klassieke musiek op TV nodig. Dis die ideale plek om mense bloot te stel aan opera.”
Johan Myburg
Op 13 het Levy Strauss Sekgapane geweet hy wil sing. Sy broer, Teboho, ’n sanger en die dirigent van die Johannesburg Filharmoniese Koor, het dié sanglus aangewakker deur hom bloot te stel aan opera op CD en DVD’s.
“Hoe meer ek daarna geluister en gekyk het, hoe meer versot het ek op opera geraak,” sê die 25-jarige tenoor wat in Julie die 34ste Internasionale Hans Gabor Belvedere- sangkompetisie in Amsterdam gewen het.
Die kompetisie wat gereken word as dié een wat deure wêreldwyd vir sangers oopmaak, het vanjaar 1 314 inskrywings gelok.
Met ouers wat in klassieke musiek belangstel het dié boorling van Kroonstad begin sing in gemeenskaps- en kerkkore. In 2006 het hy vir die Tirisano-skole-eisteddfod ingeskryf en ’n tweedeplek in die provinsiale kategorie vir solosang behaal.
Die volgende jaar het hy eers ’n plek in die Suid-Afrikaanse Jeugkoor gekry en toe ’n beurs losgeslaan om sy skoolopleiding aan die Stellenberg-hoërskool in Kaapstad te voltooi. Daar het hy onderrig in sang, teorie en klavier gekry.
“Die skool het ’n ooreenkoms met Kaapstad Opera waarvolgens leerlinge aan operaproduksies wat dié geselskap aanbied deelneem. So het ek die geleentheid gehad om klein en groot rolle te sing, in kostuum en saam met ’n orkes,” sê hy van sy skooldae.
“Die rolle het my as’t ware voorberei vir ’n loopbaan as kunstenaar. Teen die tyd dat ek afstudeer het aan die Universiteit van Kaapstad (UK), was ek gereed vir ’n professionele loopbaan oorsee.”
Aan UK se musiekskool het hy onder die leiding van Hanna van Niekerk gestudeer.
Sekgapane studeer deesdae in Duitsland. Daar het hy onder meer meestersklasse van Kobie van Rensburg ontvang. Tans is hy lid van die jeugensemble van Dresden se Semperoper.
Die Belverdere-prys is nie Sekgapane se eerste sukses in sangkompetisies nie. In 2013 het hy die eersteprys in die Mimi Coertse- asook die Schock-stigting-sangkompetisie verower en vroeër vanjaar het hy die tweedeplek in ATKV Musiqanto behaal.
Hy meen kompetisies is belangrik omdat jong sangers daar die geleentheid kry om hul vermoë en potensiaal te meet. “En as jy nie in ’n kompetisie presteer nie, is dit minstens ’n leerskool aan hand waarvan jy aan jou vaardighede kan werk,” sê hy.
“Boonop hou agente, operaregisseurs en bestuurders van operahuise hul oog op kompetisies, veral Europese kompetisies.”
Sekgapane het die beoordelaars beïndruk met sy weergawe van “Languir per una bella” uit Rossini se l’Italiana in Algeri.
Bel canto pas hom soos ’n handskoen sê hy. “Ek het ’n voorliefde veral vir die komiese operas in die bel canto-repertoire. Dis ongelooflike mooi musiek en ek geniet boonop die hoë note.”
Hoewel nog drie Suid-Afrikaners – Noluvuyiso Mpofu, Lukhanyo Moyake en Caroline Modiba – die finale ronde van die Belvedere-kompetisie gehaal het, reken Sekgapane daar kan meer gedoen word om opera en klassieke musiek in die land te bevorder. “Klassieke musiek behoort regdeur die land, ook in landelike gebiede, bevorder te word. Daar is meer steun nodig vir operageselskappe en orkeste. Ons maak nie genoeg erns met dié kunsvorm nie,” sê hy.
“Ons het ook meer opera en klassieke musiek op TV nodig. Dis die ideale plek om mense bloot te stel aan opera.”
SOURCES
Foto: Paul van Wijngaarden