Willie Burger kyk na ’n selfhelp-sielkundeboek, The Courage to be Disliked
Gewoonlik skryf ek nie oor populêre, selfhelp-sielkundeboeke nie. Ek vertrou nie boeke wat beloof dat die geheim tot lewensgeluk, ewigdurende liefde of sakesukses daarin onthul word nie. Indien dit waar sou wees dat die boeke hierdie geheime bevat, sou daar immers ná die “internasionale topverkopers” wat al oor hierdie onderwerpe verskyn het, nêrens nog ongeluk, gebroke harte en bankrot sakeondernemings gewees het nie.
Hierdie boeke kom in vlae. Hulle word goed bemark. Die boeke staan die rakke in lughawens vol en word oral gelees: op die strand, die trein en in die wagkamer. Die skrywer tree op TV op en bespreek die boek op kletsradio. Mense twiet aanhalings daaruit en plak dit teen hul yskaste, maar hulle verander nie regtig nie. Gevolglik is ek ook dadelik skepties toe ’n vriend vir my die twee Japannese, Kishimi en Koga, se boek The Courage to be Disliked gee. Tipies van hierdie soort boeke staan buite-op: “The International Bestseller. 3 Million Copies Sold.” Die boek is egter pas eers in Engels vertaal en die drie miljoen sluit nog nie Engelse lesers in nie, maar hoofsaaklik lesers uit Japan en Korea, waar dit al sedert 2013 beskikbaar is.
Ichiro Kishimi is ’n filosoof en sielkundige wat hom veral in die denke van Alfred Adler verdiep en ’n Japannese inleiding tot die werk van Adler geskryf het. Hierdie inleiding het ’n groot impak op die jonger Fumitake Koga gemaak en hy het Kishimi oortuig om ’n boek saam met hom te skryf oor hoe ’n mens jou lewe kan verander en geluk kan vind – gegrond op Adler se werk. Alfred Adler was ’n tydgenoot van Sigmund Freud, maar sy werk verskil radikaal van sy veel beroemder kollega in Wene. (Iemand het eendag geskryf die rede daarvoor dat Freud beroemd geword het en sy werk so invloedryk is, is bloot dat hy ’n veel beter skrywer as Adler was.
LEES OOK: Kies ‘n boek: The Sellout
Freud kon sy gevallestudies soos meesleurende speurverhale opbou wat lesers boei, terwyl Adler se skryfwerk in vergelyking valer is.) The Courage to be Disliked is nie die eerste selfhelpboek wat op Adler se denke gegrond is nie. Dale Carnegie se beroemde topverkoper How to Win Friends and Influence People (1936) en Stephen Covey se The 7 Habits of Highly Effective People is voorbeelde van populariserings van enkele idees van Adler. Die uitgangspunt van The Courage to be Disliked, is dat mense kan verander. Volgens die skrywers fokus mense dikwels te veel op die verlede. Freudiaanse sielkunde is deurentyd besig om in die verlede te delf, om trauma uit die kindertyd as die oorsaak vir ’n individu se huidige komplekse of kwinte te ontmasker.
Die oorsake vir ons onvermoë om goeie verhoudings te hê, ons gebrek aan selfvertroue, ons komplekse en vrese, word alles na ’n ervaring in die verlede teruggevoer. Hierdie soort denke wys dat jou probleem nie jou skuld is nie – jy is soos jy is as gevolg van jou ouers, jou skool of jou onregverdige gemeenskap se optrede teenoor jou. Hierteenoor wys Adler die verlede af. Natuurlik het elkeen trauma of onreg in die verlede ervaar. Die vraag is egter: Hoe hanteer jy dit nóú? Ons word, volgens Adler, nie deur die gebeurtenisse uit die verlede bepaal nie, maar deur die betekenis wat ons nou aan daardie gebeurtenisse heg. Geluk is daarom vir Adler ’n keuse. Elkeen kies vir hom/haarself ’n lewenstyl. In plaas van om te sê: “Ek is ’n pessimis,” behoort ’n mens liewer te sê: “Ek het ’n pessimistiese uitkyk.” Aan eersgenoemde is ’n mens uitgelewer, aan die tweede kan ’n mens verander.
Dit klink maar soos alle selfhelpboeke: oordrewe positief en alles is jou keuse en jy moet net ’n bietjie harder probeer dan gaan alles vir jou regkom. Hoewel die boek inderdaad daardie element bevat, is die argumente meer gesofistikeerd, en daar is heelwat te leer wat ’n mens sommer dadelik in al jou daaglikse verhoudings kan toepas. Adler voer aan dat byna alle probleme eintlik probleme met interpersoonlike verhoudings is. Minderwaardigheidsgevoelens onstaan byvoorbeeld slegs in interpersoonlike verhoudings. Die probleem is dat interpersoonlike verhoudings dikwels op mededinging gegrond is – elkeen probeer om so ’n trappie bo die ander te wees.
Daarom meet hulle hulself gedurig aan ander en kan nie in harmonie met ander leef nie. Die boek moedig ’n mens aan om “horisontale verhoudings” met ander te bou. Maar dit is nodig om eers jouself te aanvaar (iets anders is as om jouself te probeer bevestig), om ander te vertrou en om tot die gevoel van ’n gemeenskap by te dra. Uiteindelik is geluk te vind in die gevoel dat ’n mens ’n bydrae tot die gemeenskap lewer. Ja, uiteindelik is dit net nog ’n selfhelpboek, maar dit bied wel ’n hele paar ander perspektiewe as die slagoffermentaliteit wat ons land oorheers.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.